top of page

My redding is nie uit myself nie

Sou ek gereeld bid, Bybel lees, gereeld kerk toe gaan en ‘n voorbeeldige lewe lei, kan ek dan aanvaar dat ek die ewige lewe sal beërwe en een dag hemel toe gaan? Paulus beantwoord hierdie vraag deur daarop te wys dat ons uit genade gered is, deur geloof en dat hierdie redding nie uit onsself en uit ons eie verdienste kom nie, maar dat dit ‘n gawe van God is (Eff.2:8-9). Sonder God se wilsbesluit oor my,is ek tot niks in staat nie en sê Johannes selfs dat niemand na die Vader kan kom as die Vader hom nie na Jesus toe trek nie, m.a.w. as die Vader dit nie aan hom gegee het nie ( Joh.6:44 en Joh. 6:65).

Jesus het self gesê “Julle het My nie gekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra……Julle moet mekaar liefhê ”(Joh.15-16). Jesus het besluit om ons lief te hê en vir ons te sterf en om ons te nooi om vir ewig by Hom te bly. Ons moet egter ook ‘n keuse maak – of ons Sy aanbod gaan aanvaar of nie. God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld en as ons ons harte verhard en Sy uitnodiging nie aanvaar nie, sal ons moet verantwoording doen op die oordeelsdag.

Dit is egter nie maklik om altyd die pad van ‘n Christen te loop nie. Om kennis van die Woord te hê,is een ding,maar om die Woord te leef, is ‘n ander. Dikwels oorval slegte dinge ons, en is dit moeilik om te glo dat God steeds oor ons waak. Ons moet egter nie vergeet nie dat “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat wat volgens Sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun” (Rom. 8:28). Wil Vosloo en Fika van Rensburg verduidelik in Die Bybel in Praktyk dat vir God om alles vir jou ten goede te laat meewerk, nie beteken dat Hy alle teëspoed van jou af weghou nie, maar dat Hy alles, ook die dom dinge wat jy doen en selfs jou sonde, tot jou beswil gebruik. Hierdie wete veroorsaak dat geen slegte ding wat jou oorkom, jou ooit permanent van stryk kan bring nie. Jy weet immers dat dit inpas in God se plan met jou lewe.

My gebed is Here dankie dat U my verseker dat “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Rom. 10:9). Dankie ook dat u die Vader is wat Hom oor ons ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee. Trek my asseblief elke dag nader aan U.

bottom of page