top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Dit gaan sleg- of nie!

Een familielid van ons het so ’n snaakse uitdrukking gehad. As ons haar gevra het hoe gaan dit, dan het sy gereeld gesê: “Dit gaan ellendig!” Met geur en kleur kon sy vertel hoe sleg dit met haarself en met die res gaan. Sy is nie die enigste een nie. As ek op Facebook lees wat mense skryf, of na briewe in die koerante kyk en na gesprekke en preke luister, sou ek dink dis nou min of meer klaar met ons almal. Gedurig hoor ek uitdrukkings soos “alles rondom ons val inmekaar;” “so kan dit nie aangaan ne;” of daardie hooplose godsdienstige opmerking: “net gebed kan ons nou nog help” (so asof gebed die laaste uitweg is, en nie ons heel eerste en enigste een nie!). Dan dink ek aan daardie mismoedige familielid van ons. En dan wonder ek of ons geloof in Christus een duit verskil maak aan ons taal, of ons manier van leef? Nee, ons geloof maak ons nie blind of naïef nie. Moord en korrupsie is goor werklikhede in ons land. Maar ons geloof in Christus is nie in kettings wanneer ons voel asof ons in kettings is nie! Orals en altyd is Christus ons rots, ons vreugde, ons skuilplek, ons reisgenoot. Ons is nooit alleen nie.

Onlangs vertel iemand my dis onrealisties om van mense te verwag om vreugde te ken in donker tye soos hierdie. Toe sê ek vir hom hy is reg. Geloof is onrealisties… vanuit menslike perspektief. Maar wanneer Christus jou Syne gemaak het en jy sy Gees se hartklop in jou binneste voel, dan verander alles. Dan dien jy ’n nuwe Heer. Dan hoor jy nuwe musiek. Dan lag jy, al huil en treur jy soms. Om agter Jesus aan te leef, is om sy nuwe pad te beleef. Dis om hoop te ken, daardie hoop wat in Christus Self gesetel is. Dan het ellende tot ’n einde gekom, want Christus is hier!

bottom of page