top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Vroue voel verlate

Die dag wanneer hierdie geveg uitbreek, sal die Here hulle God hulle red. Hy sal hulle beskerm en versorg soos ’n herder met sy skape maak. Hulle sal ook soos ’n juweel in ’n koning se kroon wees. Hulle sal blink en skitter in sy land. Hoe wonderlik en mooi sal hulle nie wees nie. Sagaria 9:16

Gesels mens met vroue nadat hulle eers bietjie die skanse laat sak het, kom jy gou agter: Vroue voel heel dikwels – ongeag alles wat ons doen en is – steeds verlate. Baie maal hardloop ons so rond om ander te help, tevrede te stel en te ondersteun, dat daar bitter min tyd vir onsself oorbly. Wanneer ons nog ’n salige uurtjie kan afknyp om gou deur ’n tydskrif te blaai, beleef ons kort voor lank dat ons maar net nie so perfek kan wees soos wat die wêreld van ons verwag nie. Dan voel dit asof ons eers ’n hele reeks tienpuntplan-dinge moet doen vóórdat ons ooit regtig aanvaarbaar sal wees. As ons onsself dan met ander suksesvolle vroue vergelyk, verdubbel hierdie ek’s-eintlik-maar-net-’n-eenkant-mens-gevoel.

As jy dus soms ontuis op hierdie aarde voel, wil ek jou verseker dat jy allermins alleen is. Omdat vroue dieper voel, dink en leef, weet hul tipies vroulike intuïsie – miskien onuitgesproke – aan dat daar iets méér in menswees is as die alledaagse wêreldse bestaan. Wanneer jy dus soms verlangend na God oor jou aardse bestaan wonder, is dit dalk die Gees se manier om jou daaraan te herinner dat hierdie wêreld nie jou permanente tuiste is nie. Soos Paulus in 2 Korintiërs 5:2 skryf: Terwyl ons nou nog in hierdie ou aardse tent van ons aansukkel, kry ons swaar. Ons sien baie uit na daardie nuwe hemelse liggaam. Maar, sê hy ook in vers 1:Wanneer ons liggaam eendag soos ’n tent opgevou en in die grond weggebêre word, is dit nie klaar met ons nie. Gelukkig nie. Dan breek ’n splinternuwe lewe by God aan wat nooit sal ophou nie.

Kinders van die lewende God het twee redes om, ondanks ons aardse ongemak, met vreugde te leef: Ons is oppad na ’n ewige tuiste-van-vrede maar tweedens kan ons ook wéét dat God ons nie alleen in ons tentwonings los nie. Hy is hier en nou tussen ons, by ons ... in ons.

Hierdie Gees van God is die Trooster, Sielsgenoot en Kameraad en het as’t ware tussen ons kom tent opslaan. Meer as dit ken en verstaan Hy ook elke aardse behoefte, droom, vrees, versugting en verwagting van elkeen van ons. Wanneer jy dus weer so half verlate voel, kan jy gerus maar daardie onverklaarbare emosie met die Gees van God deel. Hy ken jou beter as wat jy jouself ken en is daar om in elke aardse én hemelse behoefte te voorsien. Daarom kan jy, ondanks jou verlange na hemelse vervulling, ook hier en nou reeds as ’n kroonjuweel skitter.

Dierbare God, dankie dat U my ken, verstaan en liefhet. Dankie dat U my élke dag wil seën en dankie veral dat U my by die hemelpoort-van-vrede inwag.

Comments


bottom of page