top of page

Terwyl ons wag vir die wederkoms van Christus

Terwyl God se beloofde terugkeer skynbaar nie vandag gaan gebeur nie, vergeet ek maklik dat elke dag eintlik genadetyd is, tyd waarin ek daarop kan fokus om helder en gedissiplineerd te lewe soos Petrus ons aanmoedig: “… be mentally alert, disciplined, focused in order to be ready to meet Christ.” Hiervoor, skryf hy, moet my totale leefstyl heilig wees, moet ek my naaste van harte liefhê al vra dit inspanning.

Natuurlik is die regte dieet (input) belangrik, is dit belangrik dat ek verkeerde goed vermy (veral vermy om die verkeerde te doen, praat, lees, kyk), maar ek moet ook aandag gee aan my interpersoonlike verhoudings, “mekaar onselfsugtig liefhê al tap dit ons energie” om Petrus se woorde te gebruik.

By SA Gemeente in Londen het ons onlangs gesels oor hoe om dapper genoeg te wees om ons naaste so innig jammer te kry dat ons werklik iets gaan doen daaromtrent. Elisha, ‘n besoekende Indiese sendeling kon ons inspireer met sy verhaal van ware medelye (“compassion”):

Hy is ‘n Dalit, een van die laagste laagstes – in armoede gebore, op pad om in armoede te sterf, en kwaad vir God wat alles (en dus ook armoede) gemaak het. Eers toe hy die dag besef het dat die mens self vir die swaar en seer en sleg verantwoordelik is, kon hy Jesus aanneem en met ware omgee begin uitreik na sy eie mense in hulle swaarkry en hooploosheid. In die bestek van vyf jaar het hy reeds ‘n weeshuis vir 90 kinders en ‘n uitstekende skool vir 225 kinders gevestig, en werk daaraan om die skool uit te brei na 1000 leerlinge. Hy het ‘n voedingskema vir 40 Dalit bejaardes (wat andersins bloot van honger sou sterf) en lei twee maal per jaar ‘n groep Dalit vroue op om masjienstikwerk te doen (mét ‘n trap-naaimasjien vir elk aan die einde van die 6 maande opleiding).

In my eie wêreldjie is daar ‘n verswakte bejaarde familielid of bure, mense met siekte in die huis, hele gemeenskappe wat swaar kry, tieners wat insette van iemand in die groter wêreld nodig het, of kleuters wat versorging nodig het, iemand in die hospitaal of gevangenis met niemand wat hulle besoek nie – die moontlikhede om uit te reik is onbeperk.

So is daar verskeie organisasies wat uitreik na die strome van vlugtelinge uit Moslemlande na Europa. Terwyl die politici skarrel om ‘n oplossing te vind, kan ons as Christene iets van Jesus se liefde en omgee vir hierdie mense gee en moontlik ‘n paar vir die ware Koninkryk wen.

Ja, ek kan nie my redding verdien deur goed te doen nie, maar my dade is ‘n uiting van my geloof.

bottom of page