top of page

Wat wag op ons ná die dood? [resensie]

Fika J van Rensburg & Marius Nel

CUM

2016

Paulus meen dat wanneer Christene die hoop op lewe ná die dood verloor het, die evangelie nie vir hulle van veel waarde sal wees nie omdat ‘n mens dan slegs vir dié lewe jou hoop op Christus stel. Christene deel die verwagting van lewe ná die dood met mekaar? Maar waaruit bestaan dié verwagting? Wat sê die Bybel hieroor?

Die Bybel bevat nie ‘n enkele of eenduidige antwoord hierop nie, is die bevinding van ‘n Ou Testamentikus en Nuwe Testamentikus wat die Bybelse besonderhede hieroor gaan ondersoek het. Vir die grootste deel van die Ou-Testamentiese periode het Israeliete (en na die ballingskap, Jode) verwag dat die dood jou na die doderyk neem wat iewers onder die aarde is, waar jy ‘n skimbestaan voer solank jou mense van jou onthou. Daarom was dit belangrik dat jy seuns het wat jou graf versorg en verhale oor jou vertel, want elke keer word jy aan die vergetelheid ontruk wanneer dit gebeur. Iewers kan mense egter van jou vergeet, en daarom was geslagsregisters belangrik omdat dit van jou onthou het.

En dan verander Jode se verwagting, juis in die die tyd dat hulle aan die Babiloniërs en Perse blootgestel word tydens die ballingskap van die sesde eeu vC. Hoekom gebeur dit? Die skrywers gaan kyk na wat die omliggende kulture hieroor gedink het en vergelyk dit met wat in Israel gebeur het.

Teen Nuwe-Testamentiese tyd is daar steeds ‘n deel van die Jode wat niks verwag van lewe ná die dood nie. Die Sadduseërs glo nie in die opstanding, of engele, of ‘n bose mag naas God nie omdat hulle slegs die eerste vyf boeke van Moses beklemtoon. Maar Jesus is ‘n apokaliptiese figuur wat self verwag om uit die dood opgewek te word, en dan as eersteling van sy volgelinge wat ook die dood sal oorwin.

Hier kry jy ‘n in-diepte bespreking oor ‘n onderwerp wat belangrik vir gelowiges is. Die skrywers nooi jou om saam met hulle deur jou Bybel te gaan en na relevante inligting te kyk, aan die hand van die nuutste Bybelnavorsing.

Indien die onderwerp vir jou belangrik is, is dié boek ‘n goeie belegging omdat dit vele stimulerende gedagtes hieroor bevat.

Fika van Rensburg is rektor van die Potchefstroomkampus van Noordwes-Universiteit en gerekende Nuwe Testamentikus asook predikant van die GKSA, terwyl Marius Nel die afkampus vir NWU in Polokwane bestuur en ‘n pastoor van die AGS is.

bottom of page