top of page

My kreatiewe joernaal-Bybel [resensie]

My kreatiewe joernaal-Bybel

Die Bybel Nuwe Lewende Vertaling

CUM

2016

Ek het grootgeword in ‘n dag wat ouer mense soms gefrons het indien jy iets in jou Bybel geskryf het, of selfs net ‘n teks onderstreep het. Die Bybel is God se Woord en ‘n mens moet respek daarvoor hê! Ten spyte daarvan het my Bybel mettertyd ‘n heerlike dagboek en joernaal geword van die reis wat ek met die Here gedeel het. Daar is datums aangeteken met ‘n kort aantekening vir wat ‘n spesifieke teks vir my beteken het toe ek in ‘n besondere situasie was.

Nou het CUM die rewolusionêre nuwe idee dat volwassenes ‘n behoefte het om in te kleur, gebruik om ‘n Bybel te skep waar jy jou kreatiwiteit kan gebruik om die Bybelteks vir jou in te kleur. Ja, letterlik in te kleur omdat daar talle kantlyne met Bybeltekste is wat jou uitnooi om dit in te kleur en so jou Bybel individueel te maak. En waar daar nie in die breë kantlyn tekste afgedruk is wat ingekleur kan word nie, is die kantlyne daar vir jou eie aantekeninge.

So word die kreatiewe joernaal-Bybel ‘n verslag van jou reis met die Here wat elke keer toon hoe Hy betrokke is by jou lewe, op ‘n unieke manier. Jou Bybel word jou reisgenoot waar jy die kaart kan plot van afsprake met die Here en geleenthede waar Hy direk in jou lewe ingegryp het en jou gelei het.

Die teks van die Bybel is die uiters gewilde Nuwe Lewende Vertaling wat lesersvriendelik afgedruk is met ‘n lettergrootte wat gemaklik op die oog is. Die kantlyne laat ruimte vir gebede, notas, gedagtes, herinneringe en ander persoonlike inskrywings. En dan natuurlik is daar die 400 woordkuns-teksverse wat jou nooi om van jou stres en druk ontslaete raak terwyl jy jou met die beloftes van die Woord bemoei. Terwyl jy inkleur, gaan daardie teksverse diep in jou gees afsak, jou geloof bou en lewende woorde uit die hart van jou Meester word.

Jy kry dié produk in ‘n pragtige hardeband- of leerband-Bybel. Dit gaan ‘n gekoesterde geskenk vir enige mens wees. En jy kan jouself ook daarmee bederf.

Beskikbaar by CUM. Onthou dat hulle ook ‘n webwerf het waar jy die produkte elektronies kan besigtig en bestel. Besoek hulle gerus by www.cum.co.za.

bottom of page