top of page

Nederigheid

Spreuke 11:2

Die Afrikaanse spreekwoord hoogmoed kom tot ‘n val, is aan ons almal bekend. Ons teksvers waarsku ook dat mense wat hulleself verhef, verneder sal word. Hoogmoed is die sonde in die Bybel wat God die meeste kwaad maak. Ons lees ook in Spreuke 6:17 dat God ‘n afsku het in oë wat straal van hoogmoed. Hoogmoed maak dat ek nie ander se swaarkry wil raaksien nie.

Ek dink dat nederigheid seker die teenoorgestelde is van hoogmoed. Jy sien dit nie by baie mense nie. Nederige mense is skaars. Hulle praat nie van hulleself nie. Wanneer jy nederig is, is jy vergeetagtig oor jouself. Jy dink minder aan jouself en meer aan ander. Jy is die een wat aanmeld vir diens aan ander. Nederige mense het die gawe om ander mense belangrik te laat voel in hulle geselskap. As jy nederig , buig jy laag voor die Here en vra jy meer vir ander as wat jy vir jouself bid.

Om nederig te wees is om te besef dat jy die verkeerde mens is vir die regte roeping. Moses was die regte persoon maar hy het ‘n spraakgebrek gehad. Hy het gedink hy kan dit nie doen nie, maar God het die volste vertroue in hom gehad. Maria het van ‘n niksseggende gehuggie gekom. In Lukas 1:48 sing sy hoe God haar in haar geringheid raakgesien het. Sy word die moeder van Jesus. Wat ‘n getuienis is dit nie van haar lewe nie.

Hoogmoediges steel die eer van die Here. Hulle praat net die hele tyd van en oor hulleself. Hulle het nie tyd vir ander mense in hulle besige selfwees nie. Nederige mense vertel stories van ander mense. Christus maak jou vry van jouself sodat jy ander kan dien. Christus word die middelpunt van jou lewe en gebruik jou waar jy moet wees. Dan kan jy met ‘n bly gemoed vir die Here vra om jou te gebruik waar Hy goed dink. Paulus se woorde spreek my geweldig aan wanneer hy sê as die Here hom kon red, kan enige iemand gered word.

Onthou alles in jou lewe is net genade. Buig laag voor God. Sien ander mense raak. Vergeet van jouself en laat ander mense se stories wen

.

Gebed

Here, laat my in liefde ander mense raaksien. Maak my minder en U meer.

Amen

bottom of page