top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Vriendelikheid kos niks en nederigheid kos ook niks

Is jy sagmoedig en nederig? Dit maak jou ook saggeaard. Soos ek in BYBELSE RIGLYNE VIR DIE BESTUUR VAN MENSE, DAGSTUKKIES VIR DIE MARKPLEIN, 2013, p. 77-79 oor die vrug van sagmoedigheid en nederigheid geskryf het, word sagmoedigheid deur Jesus self beskryf as om ‘n sagte hart vir ander te hê. In die bergpredikasie (Mat. 5:5) sê Hy: Gelukkig is dié wat met deernis uitreik na mense in nood, want God sal aan hulle deernis bewys. ‘n Mens kan nie deernis teenoor ‘n ander bewys tensy jyself nederig en sagmoedig in jou optrede is nie.

Hulle wat sagmoedig is, kan groot invloed op ander hê. ” ‘n Vriendelike antwoord (m.a.w. sagmoedigheid) kalmeer die gemoedere, ‘n dwars antwoord laat woede opspring“ (Spreuke 15:1) (NLV). Sagmoediges bring nie slegs vreugde vir ander nie, maar ook vir hulself, want volgens Ps 37:11 sal sagmoediges self die land besit en hulle sal oorvloed en vrede geniet.

Jesus het verduidelik wat Hy bedoel met nederigheid deur ‘n kindjie tussen Hom en sy dissipels te laat staan en gesê: ”Daarom is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word, die belangrikste in God se Koninkryk”(Mat. 18:4) (NLV).

Daar is geleentheid om ‘n gees van nederigheid te openbaar in my hele lewe – my huisgesin, my sport, my kerk, my woonbuurt asook in my werk. Hoe om nederig in my werk te wees,word duidelik in die Woord uiteengesit:

Moenie dink jy is slim nie

‘n Nederige bestuurder of toesighouer dink nie meer van homself as wat hy behoort te dink en of hy die wêreld se wysheid in pag het nie. In Rom 12:3 staan “Sê ek aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel volgens die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het” (NLV). Die nederige bestuurder doen moeite om belangrike ontwikkelings in die onderneming aan sy kollegas en ondergeskiktes te kommunikeer en huiwer nie om hulle mening te vra by soek van oplossings vir probleme en vraagstukke in die werk nie.

Moenie net aan jouself dink nie

‘n Nederige bestuurder dink nie net aan homself nie; hy stel belang in die doen en late van sy ondergeskiktes en maak altyd genoeg tyd beskikbaar om hulle huislike omstandighede te leer ken, na hulle probleme te luister en saam na oplossings vir hul probleme te soek. Sy deur staan vir almal oop. ”Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange” (Fil 2:3-4) (NLV).

Moenie spog met jou prestasies nie

‘n Nederige werknemer loop nie heeldag en spog oor sy eie suksesse en prestasies nie. “Moenie jouself op die skouer klop nie. Laat iemand anders jou liewer prys” (Spr. 27:2) (NLV).

Wees ‘n leier deur diens aan ander te lewer

‘n Nederige bestuurder lewer diens aan ander in plaas van om homself te bevoordeel. Hy gee leiding met die werk, sorg dat sy mense goed opgelei is en skep geleenthede vir hul bevordering waar moontlik. “Daarop gaan sit Jesus en roep die twaalf na Hom toe. Toe sê Hy vir hulle: ’As jy die vernaamste wil wees, moet jy heel agter inval en almal se dienaar wees’ (Mark. 9:35) (NLV).

Erken gesag wat oor jou aangestel is

‘n Nederige bestuurder is altyd lojaal aan sy werkgewer en motiveer sy ondergeskiktes om te alle tye bestuur se gesag te respekteer en hulle daaraan te onderwerp. ”Herinner die mense om hulle aan die regeerders en gesagsinstansies te onderwerp. Hulle moet aan hulle gehoorsaam wees, altyd gereed om te doen wat goed is. Hulle moet van niemand kwaadpraat en nie bakleierig wees nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd saggeaard teenoor almal optree” (Tit. 3:1-2) (NLV).

Die gesegde “vriendelikheid kos niks” som die vreugde op wat by ‘n mens opgewek word wanneer jy sagmoedig en nederig teenoor ander optree. Volstaan jy egter met ’ n hoë dunk van jouself, verbeel jy jou jy is slimmer as ander en dink jy net aan jou eie belange, dan moet jy weet “Die hoogmoediges sal tot ‘n val kom, die selfversekerdes sal verneder word” (Jes. 2:3).

 

KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

e | info@ekerk.org

c | 083.670.9974

f  | 087.123.4567

Posbus 11315, Aston Manor 1630

52 Weltevreden Crescent, Kempton Park

Regnr:  2004/011580/08

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page