top of page

Ons almal is dieselfde voor God

Galasiërs 3:27-28

Ek is gaande oor enige storieboek wat handel oor die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog. Ek lees graag biografie oor mense wat in die strafkampe was. Dit motiveer my en laat my met dankbaarheid na die lewe kyk. Hitler was ‘n rassis. Hy het gedink die Duitse volk is verhewe bo die Jode. Rassisme is in sy diepste wese om hoogmoedig te wees. Ons worstel maar ook baie met rassisme in Suid-Afrika.

Ons kyk met ander oë na mense. Ons sien kleur raak. Mense dink hulle groep is beter, slimmer, mooier as die groep waaraan hulle behoort. Nelson Mandela het gesê dat geen mens gebore word met ‘n haat vir ander nie, ons leer dit aan. Daarom kan ons ook leer om lief te hê. Ons moet verby die kleur van ‘n vel of nasionaliteit kyk. Ons mag nie n gevoel hê van ek is beter as iemand anders nie. Voor die Here is ons almal dieselfde.

Mense sal stereotipeer deur uitlatings te maak dat die ander groep almal dom is, of sleg en lui is. Hierdie mense is almal skelms. Dit is so ongelooflik verkeerd. Die groep wat hierdie tipe stellings maak vergeet dat elke mens geskape is deur God. Dat elkeen van ons anders is. Dit is die wonder van die skepping. Die God wat vir my en jou geskape het, skape ook ander groepe en nasionaliteite. Elkeen van hulle is ook anders. Nie almal is sleg nie ens.

Paulus is in ons teks baie uitgesproke oor hierdie onderwerp. Hy sê in vers 28 dat daar nie onderskeid is tussen mense nie. Hy noem nasionaliteite, slawe en vry mense, mans en vroue en hy sê dat almal een is in Christus Jesus. Almal het deel aan Christus.

Die Here, Skepper van die heelal, het ook elkeen van ons geskep. Ons is na Sy beeld geskape. Hy het ons elkeen lief, maak nie saak hoe ons lyk nie. Om rassisties te wees, beteken om neer te sien op ‘n skepsel van God. Hy het ons almal innig lief en het vir ons almal se sondes gesterf.

Gebed

Here, dankie dat U vir ons almal onvoorwaardelik lief is.

Amen

bottom of page