Die Lewende Woord
Daar is baie vroue vandag wat met Hanna, Samuel se ma, kan identifiseer. Dit is sy wat hartstogtelik gehuil het omdat sy kinderloos was. En toe sy uiteindelik vir Samuel in haar arms kon vashou, het sy die Here geloof: “Ek jubel in die Here, ek is sterk in die Here. Ek lag my vyande uit, ek is bly oor die uitkoms wat U gegee het.” (1 Sam 2:1)
Daar is ook die vroue wat met Maria, Jesus se ma, kan vereenselwig. Die vreugde van ‘n kind in die wêreld bring, en die hartseer van ‘n kind wat moes swaarkry. Toe Maria hoor dat sy swanger is met die Redder van die wêreld, het sy dit uitgejubel: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.” (Luk 1:47-48a)
Die bekende teoloog, John Piper het hierdie twee gebede op ‘n keer met mekaar vergelyk. Vers vir vers sien jy dat dié twee vroue se lofliedere baie na mekaar klink. Piper merk op Maria só ingedelf moes wees in die wet en die profete, dat die woorde wat uit haar hart geborrel het, juis die woord van God was.
Sou dit dalk een van die redes wees waarom Maria gekies is vir hierdie grootse taak? Sou dit God se woord in haar wees wat haar bekwaam gemaak het om geboorte in ‘n stal te skenk, Jesus in God se weë groot te maak, en uiteindelik die pyn van sy dood te hanteer?
Dan wil ek dít by Maria leer: Om myself te deurdrenk met God se woord, om die Gees toe te laat om dit lewendig in my te maak, sodat wanneer die vreugde en die pyn van die lewe kom, ek God se woord – lewend en kragtig – in elke situasie kan gebruik. Tot eer van sy Naam. Tot eer van die Lewende Woord.
Comments