Voorbereiding
Lukas 2:4 Ek is gaande oor Kersfees en die seisoen wat daarmee gepaard gaan. Ek tref maande voor die tyd reëlings vir die spyskaart en geskenke. Ek koop reg deur die jaar geskenke as ek dink dit pas by die persoon wat ek in gedagte het. Dis my gunsteling tyd van die jaar. Josef en Maria moes definitief ook voorbereidings getref het, maar vir ’n heel ander rede. Maria was swanger, eintlik hier op haar laaste. Hulle moes na Betlehem, want keiser Augustus het ’n bevel uitgevaardig dat die hele volk getel moes word. Josef was uit die geslag van Dawid en moes na Betlehem gaan vanaf Nasaret. Ek kan my net indink hoe ongemaklik die arme Maria moes gewees het. Hierdie vêr rit te voet, moes haar geweldig moeg gemaak het. Sy moes definitief voorbereidings vir die baba getref het in haar tuisdorp. Al was hulle nederige, arm mense sou sy gereed gewees het vir die koms van haar baba. Hulle het egter geen keuse gehad as om die lang rit aan te pak om hulle name in die register van Betlehem te gaan skryf het nie. Na die lang reis, kom hulle aan in Betlehem en daar is geen herberg wat ’n slaapplek vir hulle het nie. Maria moes al baie moeg gewees het. Lyfseer en gedaan kry Josef vir hulle ’n plekkie in ’n stal tussen diere om te rus en te slaap. Dit was nie ’n skoon hospitaal met wit linne nie. Dit was nie steriel en ’n veilige plek om geboorte te skenk aan ’n baba nie. Dit was ’n vuil stal met diere–mis en dalk strooi. Dit moes gestink het. Daar was niks romanties aan hierdie toneel soos sommige Kersfeeskaartjies uitbeeld nie. Dit was meer as ’n nederige plek. Op die dag is daar ook in die hemel voorbereidings getref. Die hemelse kore het hulle musiek uitgehaal. God het in afwagting op Sy troon gesit vir die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die heelal. Die wyse manne was ook op reis en het met opgewondenheid uitgesien na die die Koning waarheen hulle oppad was. Is jy opgewonde oor Jesus? Sien jy uit na Sy koms? Sit jy vandag met afwagting in jou hart vir die die Koning van die heelal om op te daag in jou lewe? Tref jy voorbereidings sodat Jesus kan opdaag in jou lewe? Gebed Here, ons sien uit na U koms. U, die Redder van die heelal, kom vul U my lewe. Amen