top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Moenie dat teleurstellings jou onderkry nie

deur Luther Backer Almal van ons ervaar teleurstellings een of ander tyd in ons lewe. Dit mag iets eenvoudig wees soos dat jou bevordering nie goedgekeur is nie of dit mag iets ernstiger wees soos ’n dreigende egskeiding, of kanker wat by jou gediagnoseer is, of ’n familielid wat oorlede is. Hoe gering ook al, teleurstellings in jou lewe loop altyd die gevaar om beduidende uitwerking op jou geloof te hê. Joel Osteen in YOUR BEST LIFE NOW. Faith Words Publishers, New York, 2004, p. 175 beklemtoon dat wanneer ons mislukking of verlies ervaar, is dit natuurlik vir ons om berou of droefheid te ervaar. God het ons so gemaak. As jy jou werk verloor, sal jy waarskynlik erge teleurstelling ervaar. As jy ’n gebroke verhouding met ’n kind ervaar, sal dit gewis baie seer wees. As jy ’n geliefde aan die dood afstaan, gaan jy deur ’n tydperk van rou en droefheid. So ’n gevoel van teleurstelling moet egter nie onbepaald voortduur en jou lewe ondraaglik maak nie. Maar as jy steeds ongelukkigheid ervaar as gevolg van ’n teleurstelling wat ’n jaar of langer gelede plaasgevind het, sal jy iets daaromtrent moet doen. Jy moet ’n besluit neem dat jy gaan aanbeweeg met jou lewe en dat jy nie gaan toelaat dat teleurstellings jou lewe oorheers nie. Die vyand skep behae daarin om mens te laat wegsink in selfbejammering of selfverwyt soos om aan te hou vra ‘waarom het dit met my gebeur?’ of om te sê, ‘God het my seker nie meer lief nie’, of ‘Hy antwoord nie my gebede nie,’ of ‘waarom het my huwelik in egskeiding ge-eindig?’ of ‘waarom het my besigheid misluk?’ Word jou teleurstelling veroorsaak deur ’n vriend of ’n lid van jou familie wat onverskillig bly staan teenoor God, moet jy onthou dat die persoon slegs gered sal word indien hy of sy self die besluit neem om Jesus as sy verlosser aan te neem. Jy moet jouself uit die neerslagtigheid loswikkel en jy moet ophou om te rou oor wat jy verloor het en begin om God se genade en liefde te ontvang. God is geduldig met ons en al ons foute en Hy oorlaai ons elke dag met vergifnis en genade: “Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Petrus 3:9). Jy moet leer om jouself te vergewe en om minder krities op jouself te wees sodat jy ongehinderd kan ontvang dit wat God met jou wil deel. Jy moet natuurlik probeer om so ver as moontlik vergifnis te vra vir dit wat jy verkeerd aan mense gedoen het, en om mense te vergoed wie jy skade berokken het, maar dikwels kan nie veel gedoen word om die verlede reg te maak nie soos dat die betrokke persoon reeds oorlede is. Miskien is dit tyd dat jy eenvoudig God se genade en vergifnis ontvang sodat jy kan aangaan met jou lewe. Soms verstaan ons nie waarom sekere dinge vir ons nie uitwerk nie, soos dat een siek persoon gesond word en die ander siek persoon nie, terwyl altwee ernstig bid in die geloof. Ons moet egter God vertrou al verstaan ons Hom nie altyd nie: “Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes” (Jesaja 55:9). Hy is in beheer en weet altyd wat is die beste plan vir die oplossing van ons probleme. Soos wat Osteen sê “God wants to take your scars and turn them into stars” (p.179). Hy wil iets nuuts in jou lewe doen en jy moet jou planne wat jy gekoester het, laat vaar sodat jy gereed kan wees om God se nuwe plan wat Hy vir jou het, te ontvang. In sy ekerk Nuusbrief GOEIE NUUS van 17 Februarie 2014 “So hanteer jy teleurstelling reg”, beskryf Stephan Joubert die teleurstelling wat Dawid ervaar het met God se weiering om Dawid toe te laat om vir hom ’n tempel te bou (1 Kronieke 17). Dawid het egter sy teleurstelling gou verwerk deur dit te vervang met ’n diep dankbaarheid dat sy seun, Salomo wel die voorreg sou kry om die aardse huis van God te bou en dat God ’n ewige koningskap deur Dawid se nageslag sal vestig. Al is ons planne hoe goed bedink, moet ons onsself aan Sy wil onderwerp. Teleurstelling of mislukking beteken nooit die einde van die pad nie. Soos dit met Dawid die geval was, kan ons by die Here hoor dat Hy ander roetes vir ons in gedagte het as wat ons gedink het. Pleks van te fokus op ons teleurstelling of ons verlies, moet ons die seëninge tel wat op daardie stadium oor ons uitgestort word. Ons moet bereid wees om geduldig te wag totdat God ons bewus gemaak het van die seëninge wat ons wel ontvang het en waarvan ons waarskynlik alreeds vergeet het, en wat die pad aandui wat God wil hê ons moet loop.

bottom of page