top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

’n Lewe van dankie’s

deur Francine van Niekerk Daar is min dinge wat ’n ek–sien–nie–kans–vir–die–lewe houding kan nekomdraai soos dankbaarheid. Ja, dankbaarheid verf ’n mooi lagie rooskleur oor ons lewensbril. Dit kweek ’n ek's–lus–vir–die–lewe gesindheid. En dis gewoonlik die voor die handliggende dinge wat groot dankbaarheid laat opvlam — as ons dit net wil raaksien. Dit is redelik maklik as jy dit eers ’n paar keer geoefen het. Hier is ’n eenvoudige manier om te begin: “Dankie vir ’n nuwe dag waarin ek U kan beleef. Dankie vir die son wat skyn, vir bome wat in die wind wieg, vir wolke wat ons herinner daaraan dat Jesus oppad is om ons volkome deel van sy heerskappy te maak. “Dankie Here, vir kinders wat sorgvry kind kan wees. Dankie vir ma's en pa's wat hulle kinders grootmaak in u weë. Dankie vir ouers wat saamwerk en hard probeer. “Dankie vir ’n huis, ’n motor, ’n werk. Dankie vir gesondheid, genoeg geld. “En dankie dat ons steeds dankbaar kan wees al het ons al hierdie dinge nie. Dankie vir genade en ’n verbond waarvan ons deel is deur ons geloof. Dankie vir Jesus wat vol genade en waarheid hier tussen ons is. Al word alles van ons gestroop, staan die kruis soos ’n baken op ons pad. Ons is dankbaar, want ons is gekoop en behoort aan die God wat mildelik en ryk duursame liefde oor ons uitstort.” Ja, ons kan dankie sê. Vir die voor die handliggende dinge, maar ook vir die onsienlike dinge. En dan eer bring aan die Een wat al ons dank verdien deur ’n lewe van dankie's voor God te gaan leef.

Francine van Niekerk is redakteur van LiG

bottom of page