Wie se skuld is dit?
deur Marietjie Joubert Genesis 3:12 Ag hoe moeilik is dit nie om te sê ek is die skuldige. Ons sal om dit praat en redeneer, maar erken dit is ek, nee, nie so maklik nie. Ons sal die skuld op ’n honderd ander plekke gaan soek, maar erken, nee. Ons sal verduidelik en om die punt praat, maar nie erken ons is verkeerd nie. Adam sê dis Eva, en Eva sê dit is die slang. Nie eers die eerste mense kon erken hulle was verkeerd nie. Hierdie probleem kom al baie vêr. Dit is in ons gene om te ontken ons is verkeerd. Ek dink baie keer probleme kan soveel gouer opgelos word as ons net kan erken iets is ons skuld. Ons soek te maklik verskonings vir dinge wat verkeerd loop. Apartheid is nie ons skuld nie, dinge by die werk wat skeefloop is nie my skuld nie. Iemand anders is altyd die skuldige. Ons is nie bereid om die verantwoordelikheid vir iets wat verkeerd loop te aanvaar nie. Die blaam word heel maklik verskuif. Dalk is dit tyd dat ons erken as ons verkeerd was. Moenie wegskram van die waarheid nie. Kyk die lewe in die oë en erken jou skuld. Moeilikheid word soveel vinniger opgelos as mens kan erken dat jy verkeerd was. Hoe vinniger daardie belydenis gedoen word, hoe vinniger kan daar oplossings gevind word vir dit wat verkeerd geloop het. Onthou om sommer vandag op te hou om ander te blameer. Neem verantwoordelikheid vir jou optrede en besluite en moenie blaam verskuif na ander nie. Neem ’n besluit om te erken as jy verkeerd is en jammer te wees vir jou verkeerde optrede. Moenie huiwer om verskoning te vra nie. Voor God staan ons almal naak, want Hy weet alles van jou. Hy ken jou deur en deur en weet wat jy gedoen het. Hom kan jy nie flous nie. Bely eerstens voor God, want voor God staan jy alleen met jou sonde. Gaan dan na die betrokke mense om te sê dat jy verkeerd was. Wees totaal eerlik en moenie nog deeltjies wegsteek nie. Neem verantwoordelikheid vir dit wat jy verkeerd gedoen het. Gebed Here, ek staan skuldig voor U. Vergewe my. Gee vir my die woorde om eerlik voor mense te staan as ek verkeerd is. Amen