Waarom tref slegte dinge my soms?
deur Luther Backer Almal van ons word een of ander tyd getref deur siekte, of ongeluk, of hartseer, of onbillike behandeling of teleurstelling of watter slegte dinge ook al. Christene sowel as nie–Christene word deur slegte dinge geraak. Praat jy met die mense wat deur die ellende getref is, sal jy waarskynlik hoor: “Waarom ek, Here? Waarom my kind? Wat wil u vir my sê met hierdie slegte goed wat my getref het? Waarom het u dit toegelaat? Hoe moet ek as God se kind hierdie dinge wat my getref het, hanteer?” Philip Yancey in WHERE IS GOD WHEN IT HURTS? Zondervan, 2001 pp.16–19 was geskok met die optrede van besoekers aan ’n vriendin van hom, Claudia, wat ernstig siek was in die hospitaal met kanker van die limfkliere. ’n Diaken van haar kerk wat haar besoek het, was van mening dat sy iets verkeerd in God se oë moes gedoen het en het haar aangeraai om uit te vind wat God vir haar wil sê. ’n Ander vroulike besoeker het beklemtoon dat God haar sal genees as sy net genoeg geloof kan bymekaar skraap dat sy gesond sal word. ’n Derde besoeker van haar kerk het vir Claudia ’n armvol boeke gebring oor die onderwerp waar God geprys word vir alles wat in haar lewe gebeur en sy moet kan sê “God, ek het jou lief omdat jy my so swaar laat kry.” ’n Ander besoeker, Claudia se pastoor, het haar laat voel dat haar siekte met ’n sekere doel oor haar moes gekom het. Claudia het die raad van hierdie welmenende Christen–troosters onaanvaarbaar gevind, want sy het geglo dat die geloof wat gebaseer was op die Groot Geneesheer vrede behoort te bring en nie verwarring in ’n tyd van krisis nie. Wat sê die Skrif oor wie veroorsaak lyding by mense? In ’n aantal boeke in die Ou Testament soos Amos, Jesaja en Hosea word herhaaldelike waarskuwings aan Israel gegee dat indien hulle nie God se opdragte uitvoer nie, hulle deur God gestraf sal word. Hulle het ook geweet wat die straf sal wees. Die boodskap was duidelik: “verkeerde keuses lei tot pynlike gevolge”. Dit was ook die standpunt van Job se drie vriende (Job 32–36). Job was vroom en opreg en het God gedien maar God het dit op ’n dag goed gevind om sy kinders, eiendom en vriende — hy was ’n vermoënde man — sowel as sy gesondheid van hom weg te neem. Job het nie verstaan waarom God so onregverdig teen hom optree nie terwyl hy wat Job is, Hom sy lewe lank al dien en rein voor God gelewe het en dat God dit weet. Job se drie vriende het Job daarvan probeer oortuig dat omdat hy gesondig het, God hom wil dissiplineer en dat Job moet boete doen van sy sonde om vergifnis te ontvang. Job het geworstel met God oor al die slegte dinge wat hom getref het en uiteindelik tot die besef gekom dat ons nooit vir God en Sy liefde vir ons eers moet probeer verstaan nie, en dat hy nooit sal verstaan waarom daar soveel onreg op die aarde is nie. Job het ook aan God erken dat hy niks verstaan van die wondere van die skepping en die almag van die Skepper nie. God was kwaad vir die drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar omdat hulle nie die waarheid oor God gepraat het nie. Die Nuwe Testament word oorheers deur verwysing na Jesus se meegevoel met siekes en gebreklikes. Hy het Sy bonatuurlike magte gebruik om te genees, nooit om te straf nie. In Lukas 13: 1–3 het mense vir Jesus kom vertel van die Galileërs vir wie Pilatus laat doodmaak het waar hulle besig was om hulle offerdiere te slag en het Jesus hulle geantwoord: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het? Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!” In Joh 9:1–12 antwoord Jesus sy dissipels se vraag wie se sonde dit is dat die man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n? Sy antwoord was: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, deur hom gesien sal kan word.” Daarna het Hy die blinde van sy blindheid genees. Jesus het nie al die siek mense van Sy tyd gesond gemaak nie, maar God se grootheid is geopenbaar deur verskeie wonderwerke waarmee hy mense se pyn en lyding genees het. Die doel van lyding en swaarkry Yancey (pp. 231–233) het daarop gewys dat as jy lyding ervaar, beteken dit nie dat God jou verlaat het nie, in teendeel, deur mens te word het Hy bewys dat Hy ons kreune van swaarkry hoor en selfs saam met ons kreun. Hy het ons nooit ’n lewe sonder swaarkry op aarde beloof nie maar dat as ons beproewing verduur, sal Hy langs ons staan soos die vierde persoon in die vuuroond saam met Daniël se vriende. Wat ons ook al mag deurgaan, het God ook deurgegaan. Lyding kry vir ons betekenis as ons dit beskou as deel van ons kruis wat ons opneem om Jesus te volg. God se boodskap aan Job sowel as aan jou en my is dat terwyl ons op aarde is, ons nooit al die antwoorde sal kan kry oor waarom al die lyding en onreg in hierdie lewe voorkom en waarom slegte dinge jou soms tref nie. Dank God vir Sy onvoorwaardelike liefde vir jou, al bevind jy jou op daardie stadium in jou lewe in die diepste swaarkry, en bid gereeld: “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer” (Ps. 119:71). Swaarkry moet jou nader aan God bring en nie van Hom vervreem nie.