top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Vang jou stories vas

deur Francine van Niekerk Stories is soos water – dit kan na plekke vloei waar geen feit van korrelsand sy lêplek sal kry nie. Dit bring lewe daar waar dit gaan lê. Maar stories kan sommer ook net wegvloei en verdamp, langs erosieslote in die vergetelheid afloop. Daarom moet ons ons emmers en bekers en leivore inrig om ons stories op te vang en te stoor. Sodat ons dit uiteindelik weer kan laat vloei. Ja, die Bybel herinner ons om te vertel van die stories wat God deur ons skryf. Psalm 66 vertel van Israel se storie – van daardie dag toe hulle droogvoets deur die see geloop het. En die psalmdigter vertel: “Kom hoor wat God gedoen het, kom hoor van sy magtige dade onder die mense ...” Soms neem dit ’n daadwerklike poging om te besef hoe God se lewende water die strome van jou lewe beïnvloed het. En om dit dan vir jouself in storievorm vas te vang sodat jy vir ander daarvan kan vertel. Soms neem dit ’n goeie vriend om jou te herinner: “Onthou hoe God daardie tyd vir jou deurgekom het ...” en jou só help om die storielyn in jou stormwaters te herken. Hoe jy ook al jou stories beleef, vang dit vas. Bêre dit in houers om dit weer en weer te vertel. Dan sal jy saam met diegene wie se stories ons so graag in die Bybel lees, kan sê: “Loof die Here. Roep Hom aan! Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het. Sing liedere, sing tot sy eer, vertel van al sy magtige dade.” (1 Kron. 16:8—9) — Francine van Niekerk is redakteur van LiG

bottom of page