top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Die kosbaarheid van familie en vriende

deur Marietjie Joubert Filippense 1:3 Ek kyk partykeer, as ons so saam kuier, na my man en kinders en verwonder my aan hulle. Elkeen staan in sy eie volle uniekheid. Nie een is enigsins ’n beeld van die ander een nie. So vreeslik verskillend, en tog ook so baie dieselfde. Een ding is baie duidelik, my dankbaarheid. Ek is so dankbaar vir my kinders en hulle liewe mans wat so mooi na hulle kyk. Ek is diep en innig dankbaar vir my man wat my altyd op die hande dra. Ek kan nie anders as om God te loof vir my gesin nie. Hulle is my skatte hier op die aarde. Ek sal my hande stompies vir hulle baklei. Hulle is die mense wat my oneindig baie vreugde verskaf. Hulle is my genadegawes so reg uit die hand van die Here. Sonder my man en kinders is ek ’n halwe mens. Saam met hulle kan ons lag vir die simpelste dinge en saam huil oor iets wat seermaak. Hulle is geskenke uit die hemel wat die lewe hier op die aarde die moeite werd maak. Wanneer jy hierdie vers lees is dit werklik ’n dankgebed. Ek dank die Here gereeld vir my gesin, my man, dogters en skoonseuns. Dan dank ek die Here vir my ouers wat Hy vir my gegee het. My ma en pa was kinders van die Here. Hulle het my aan die Here bekend gestel. My ma is my voorbeeld. Wat doen jy vir jou familie? Gee jy om vir hulle deur vir hulle te bid? Sien jy hulle gereeld? Hou jy kontak met hulle? Is hulle vir jou kosbaar? Ons mag nooit so hard werk of so besig wees dat ons nie tyd het vir ons kinders of man nie. Besef weer die waarde van jou gesin vandag. Hulle is die mense wat jou die beste ken. Hulle is die mense op wie jy steun en staatmaak. Dit is die laaste groep wat jy moet afskeep. Bid gereeld vir hulle en dank God want hulle is genade–gawes. Gebed Here, dankie vir die gesin wat U vir my gegee het. Seën elkeen afsonderlik vandag. Amen

bottom of page