Lojaliteit en geloof
deur Francine van Niekerk Een van werkende mense se grootste dilemmas is dikwels hoe ons ons geloof in ons beroep kan uitleef. Vriendelikheid en geduld bring ’n mens ver. Betroubaarheid en integriteit is dikwels deel van die karakter van God se kinders. Ja, as hierdie dinge in ons lewe teenwoordig is, begin ons ons geloof uitleef. Daar is ook nog ’n eienskap wat nou gekoppel is aan ons geloof. Lojaliteit, sê die woordeboek, is om trou te wees teenoor ’n saak of persone waarteenoor ’n mens ’n verbintenis of verpligting het. Om trou te wees vra ’n hart wat regverdig en eerbaar is, en diep geplant is in integriteit. Soos meeste dinge rondom God se beginsels, speel die toestand van jou hart ’n groot rol in hoe effektief jy jou geloof in die werksplek uitleef. As jy God toelaat om jou hart só te vorm dat dit trou is aan jou maatskappy en kollegas, bou jy saam aan God se koninkryk. Spreuke 17:17 sê: “Op ’n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood.” Sou dit nie wonderlik wees as ’n mens “vriend” en “broer” met “kollega” kan vervang nie? Is jy die een op wie se liefde jou kollegas kan reken? Is jy die een wat vandag jou werksmense se nood gaan help verlig? Francine van Niekerk is redakteur van LiG.