Wat is God se Plan vir die Man in die Gesin?
deur Luther Backer Pas nadat God die Tien Gebooie op kliptafels geskryf en dit aan Moses gegee het, het Hy Israel beveel om dit aan hulle kinders oor re dra: “Hierdie gebooie...moet jy inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan” (Deut.6:6–7). Dit bly dan ook steeds die verantwoordelikheid van alle Christenouers om die Tien gebooie as maatstaf en riglyn in die grootmaak van hul kinders te vestig. Jy as ouer sal moet alles in jou vermoë doen om jou kinders vertroud te maak met God se Woord en dat hulle gehoorsaam aan die Woord moet wees. Jy moet hulle leer wat reg en verkeerd is — hulle word nie daarmee gebore nie. Spreuke 22:6 lui: “Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.” Die vader in die huis moet ook leiding aan sy gesin gee deur hulle gereeld saam te neem na samekomste van Christene waar die Bybel onder leiding van die Heilige Gees verkondig en geïnterpreteer word, en waar God geloof en geprys en vir seëninge gedank word. Dit is ’n groot fout om te maak om aan te neem dat ons kinders gered sal word bloot omdat hulle ouers Christene was. Laat jy toe dat jou kinders hul eie pad loop — weg van God en Sy voorskrifte af, kan met jou gebeur wat met die priesters, Eli en Samuel, gebeur het. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, priesters in diens van die tempel, het groot sonde gedoen in die oë van die Here deur die brandoffers in die tempel te ontheilig en ander goddelooshede te pleeg. Eli het hulle vermaan maar hy het hulle nie gestraf nie en hulle toegelaat om as priesters voort te gaan, met die gevolg dat God die priesterskap van hom en sy nageslag weggeneem het (1 Sam. 2:15–36) en het hy en sy twee seuns op een dag gesterf. James Dobson, in WEES ’n MAN VAN JOU WOORD, Promise Keepers, CUM 1997, p.150 wys daarop dat alhoewel Eli ’n priester en dienaar van God was, hy sy kinders nie gedissiplineer het nie. Hy was skynbaar te besig met die “werk van die kerk” om leier te wees in sy eie huis. Selfs Samuel, die priester wat God se wil so getrou uitgevoer het as rigter oor Israel, kon nie verseker dat sy kinders gehoorsaam aan God gebly het nie. Samuel het sy twee seuns, Joël en Abia, as leiers oor Israel aangestel, maar hulle het hulself wangedra deur hulle ten koste van ander te verryk, deur omkoopgeskenke aan te neem en deur die regspraak te verdraai (1 Sam. 8:1–3). Straf in die huis moet altyd in liefde geskied. As die kinders nog in die huis is, kan die vader hulle straf vir ongehoorsaamheid, maar as hulle die huis verlaat het en hulle eie lewens lei, kan die vader slegs vermaan en vir hulle bid. Bennie Mosterd beklemtoon in MAN VAN GOD, CUM, 2008, p. 89 dat vaders die verantwoordelikheid het voor God om vir ons kinders te bid en hulle te seën om hulle te beskerm teen versoekings en sonde. Vaders moet nie skaam wees om voor hul gesin te bid vir God se leiding en om hul afhanklikheid van God die Vader te toon nie. Kinders moet leer dat hulle lewe in God se hande is en dat hulle verhouding met die God slegs deur gebed in stand gehou kan word. Dan moet vaders hul kinders beskerm, versorg, vir hulle sekuriteit bied, hulle liefhê, en hulle belange op die hart dra. Vaders moet leiding gee en die pad wys en hulle leer onderskei tussen wat goed en wat reg is; hy moet om vergifnis kan vra as hy iets verkeer teenoor hulle gedoen het en hy moet in ag neem dat sy gedrag altyd deur sy kinders nageboots sal word. Ook moet hy hulle ’n hart vir mense leer ontwikkel. So tree die vader dan in die huis op as profeet, priester en koning.