top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Kinderdrome en die grootmenswêreld

deur Francine van Niekerk In ’n onbevange oomblik gesels ’n groepie kollegas oor hulle kleintyd–drome en watter rol hulle in die grootmenswêreld sou speel. En hoeveel anders die regte grootmenswêreld toe ontvou het. Ons gesels oor lewensroeping en dít waarvoor God ons gemaak het. Ons wens dat ons elke dag kon opstaan, werk toe gaan en met ’n tevrede sug aan die einde van die dag kon sê: “Híérvoor is ek gemaak.” Onwillekeurig dink ek aan ’n vriendin wat kleintyd die papbokse rondom haar gepak het wanneer sy ontbyt eet. Vandat sy kon lees, vertel haar ma, het sy haarself besig gehou met die lysies bestanddele op die bokse se rugkant. Vandag is sy ’n voedseltegnoloog. Ek dink aan die vrou wat vertel hoe sy as dogtertjie skool–skool gespeel het — sommer in die tuin — en vandag ’n opvoedkundige is. Aan die seuntjie wat onder elke klip gevroetel en geloer het, en nou ’n bioloog is. Ek dink ook aan die een wat as dogtertjie vir haar poppe stories vertel het; die een wat kleintyd prentjies teken in die fynste detail; die een wat radio’s uitmekaar gehaal het en sonder moeite weer kon opbou. Ek dink hoe hulle elkeen skamerig vertel van daardie kleintyd–droom, ’n simpel kinder–aktiwiteit. Dan besef ek hoe God ons elkeen uniek bedraad het. Hoe Hy in elkeen van ons ’n vermoë gesit het om spesifieke take te verrig. En dit só te geniet dat ure kan verbygaan sonder dat ons daarvan bewus is. Hy het in ons ’n vermoë geplaas om dinge te doen wat sóveel vervulling bring dat ons behaaglik kan sug: “Dís waarvoor ek gemaak is om te doen.” Ek wonder hoeveel anders die wêreld sou wees as grootmense die moed gehad het om daardie kinderdroom te gaan afstof. As hulle genoeg durf gehad het om hulle lewenskoers in daardie rigting te dwing ... Francine van Niekerk is redakteur van LiG.

bottom of page