top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Wees ’n betrokke pa

  • May 5, 2015
  • 3 min read

deur Luther Backer ’n Betrokke pa is ’n pa wat sy vaderlike pligte in die huis teenoor sy vrou en kinders nakom. ’n Pa moet nie net daar wees nie, hy moet betrokke wees m.a.w. hy het ’n belangrike rol om te speel in die opvoeding van sy kinders sowel as in sy huwelik. Kevin Leman meld in WEES DIE PA WAT SY NODIG HET, Struik Christelike Media, 2014, pp. 3–4 dat die Amerikaanse Sensusburo onlangs berig het dat 1 uit elke 3 kinders in die VSA nie by hulle biologiese pa’s woon nie en dat 64% van Afro–Amerikaanse kinders in huishoudings woon waar daar geen pa is nie. Ook dat kinders wie se biologiese pa’s afwesig is ten minste 2 tot 3 keer meer geneig is om gedragsprobleme te hê, dwelms te gebruik, slagoffers van kindermishandeling te wees en betrokke te raak by kriminele aktiwiteite as kinders wat by hulle getroude, biologiese (of aangenome) ouers woon. Met die hoë egskeidingsyfer in Suid–Afrika is dit baie waarskynlik dat afwesige pa’s ook hier ’n ernstige probleem is. Jy kan nie ’n betrokke pa wees as jy gedurig by die huis afwesig is nie, as jy te besig is, te hard werk om saam met jou gesin te eet nie, hul skoolkonsert of sportbyeenkoms by te woon nie, of om net daar te wees om te luister na hulle aangename ervarings, probleme of seerkry nie. Jy moet jou daarvan weerhou om jou kinders te bederf met alles wat jy as kind nie gehad het nie want jy sal waarskynlik lang ure oortyd moet werk om die bederfartikel te kan bekostig wat jou nog langer van jou gesin af sal hê. Jou kinders gee nie werklik om hoeveel geld jy het nie, of wat jou kwalifikasies of jou posbenaming is nie. Wat vir hulle waardevol is, is dat jy hulle as belangrik genoeg ag om tyd met hulle te spandeer. Wat hulle soek is jou teenwoordigheid. Dis die klein dingetjies wat tel. As jy julle kinders met die motor vervoer, gryp jy die geleentheid aan om te luister na alles wat hulle die dag ervaar het, of praat jy steeds werksake met jou selfoon en sit die kinders so stil soos muise om jou “nie te pla nie” tot by die huis? Draai jy die klank van die TV af as ’n kind jou ’n vraag vra of maak jy jou kind gedurig stil? As jy as pa nie beskikbaar is om vrae wat baie belangrik vir die kind op daardie stadium is, te beantwoord nie, dan mag die kind geneig wees om liefde en aandag buite die huis te gaan soek. ’n Kind word vir jou as ouer net ’n paar jaar geleen en die jare snel verby. Jy het wel helfte tot die genepoel van ’n kind bygedra, maar jy het as betrokke pa baie kennis en vaardighede wat jy aan jou kinders kan oordra; jy kan die oordra van kennis nie net aan die skool oorlaat nie. Daar is baie voorbeelde waar sportmanne en –vroue in hul ouers se voetspore gevolg en in dieselfde sport uitgeblink het. So ook bevind talle mense hulle in dieselfde beroepsrigtings as een van hulle ouers wat teruggevoer kan word tot die vroeë belangstelling by kinders gewek deur ouers. Die kwaliteit van ’n pa se betrokkenheid kan verhoog word deur gedurige kritiek en foutvindery by kinders te vermy en eerder hulle aan te moedig al was die prestasie nie van hoogstaande aard nie. Om gereeld te sê: “Ek is trots op jou” of “Ek is lief vir jou” dui op aanvaarding en sal gewis jou band met jou kinders versterk. Leman (p.118) beklemtoon ’n belangrike faset van betrokkenheid van pa’s en dit is dat jy openlik moet lief wees vir jou vrou. Jou kinders moet sien dat jy jou vrou behandel as iemand wat verdien om gerespekteer te word. Stel altyd jou vrou en kinders se belange bo joune, aanvaar elkeen onvoorwaardelik vir wie en wat elkeen is en jy sal baie vreugde ervaar met hulle liefdevolle houding teenoor jou. Jou betrokkenheid as pa en hoof van die gesin vereis ook dat jy leiding aan jou gesin sal verskaf aangaande uitleef van Christelike waardes. Dit sluit in dat jy tyd sal maak om gereeld saam met jou gesin Bybel te lees en te bid vir leiding en beskerming en dat jou lewe sal getuig van vertroue en afhanklikheid van God asook van gehoorsaamheid aan Sy Woord.

 
 
 

Comments


KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page