top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Wat beteken dit vir my om kerk toe te gaan?

deur Luther Backer Jesus se laaste opdrag aan Sy dissipels voor Sy hemelvaart was om na al die nasies te gaan en die mense sy dissipels te maak, hulle te doop en hulle te leer om alles te onderhou wat Hy hulle beveel het (Mat. 28: 19-20). Jesus het geweet dat om Sy kinders te word, die mense hulp sal benodig — hulle dus geleer sal moet word — om Sy Woord te verstaan. Hy het deur die eeue predikers toegerus met die vermoë om kennis van die Woord op te doen en met die vermoë om die kennis oor te dra. Waarheen moet mense gaan om geleer te word hoe om God se Woord te verstaan? God het Sy Kerk op aarde tot stand gebring om skaapwagter vir Sy kudde op aarde te wees. God se kerk is meer as net eredienste in formeel gestigte gemeentes met vaste strukture en ampte. Dit is oral waar daar so min as twee of meer volgelinge van Jesus bymekaar is om Sy Woord te hoor soos in kantore, fabrieke, werkswinkels, Bybelstudie– en kleingroepbyeenkomste, sportbyeenkomste, koffiewinkels en selfs kroeë. Al verwys mense soms steeds na kerke as “die huis van God” woon God nie meer in mensgemaakte geboue soos die tempel gedurende die Ou Testament nie. God bly nou in lewende tempels, die gelowiges wat in Sy naam bymekaar gekom het. Hierdie verandering in die begrip van God se tuiste het gevolg op Jesus se sterwe aan die kruis toe Hy weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het. “Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur” (Mat. 27:50-51). Wat behoort hierdie bywoning van kerkdienste en ander toerustingsgeleenthede vir ons te kenmerk? In VRYGESPREEK, CUM, 2004, pp. 86-89 verwys Stephan Joubert na hierdie geleenthede as God se wingerd. Hy pleit dat jy Christus sal toelaat om jou in genade te verander, om vrug te dra en jou lig te laat skyn. Om meer soos Hy te word. Om die onverdiende genade te ontvang moet jy in God se wingerd wees want genade laat jou vrug dra. Dit maak jou nuut. God is die tuinier wat omsien na sy bome in die wingerd, daarbuite kan die bome nie oorleef nie. Jy ook nie. Maar waar is hierdie wingerd? Hiervolgens is God se wingerd daar... * Waar die Bybel onder leiding van die Heilige Gees uitgelê en bekend gemaak word. God het dit gewil dat ons Sy Woord sal verstaan slegs met die hulp van predikers wat goed in die Woord onderlê is. “En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus” (Rom. 10:14 en 17). Verder kan ’n keuse gemaak word vanuit ’n rykdom van beskikbare Christelike boeke, radio— en TV programme sowel as Christelike boodskappe op verskeie elektroniese media soos internet webblaaie wat jou kan help om God se Woord beter te kan verstaan. * Waar Sy kinders bymekaarkom om Hom te loof, te prys en te dank. Ons aanbid Sy grootheid en prys en dank God vir alles wat Hy as deel van die skepping gemaak het, vir die lewe wat Hy aan ons gee en vir die verlossing deur Jesus Christus. Ons prys en dank Hom vir so baie seëninge soos ons gesin en familie, vriende, ons werk, ons gesondheid en die geleenthede wat ons verleen word om na ander mense uit te reik. Die Psalmdigter het God gevra om hom te red en genadig te wees, ”dan is my pad vorentoe gelyk en sal ek die Here prys in die samekoms van die gemeente” (Psalm 26:11-12). * Waar medegelowiges kan getuig van die teenwoordigheid van God in hulle lewe soos wat Dawid in Psalm 40:10 uitroep: “Met blydskap het ek aan die gemeente vertel: “U het my verlos.” Ek het nie stil gebly nie, Here U weet dit!” * Waar gelowiges nie huiwer om met hul werk, sport en ontspanning God te verheerlik en hul afhanklikheid van God te verklaar nie. * Waar in die Naam van die Here behoeftiges in die gemeenskap raakgesien en lewensmiddele soos kos en klere, skoolgelde, gesondheidsdienste en werksgeleenthede uitgedeel word. By byeenkomste van gelowiges soos in gemeentes wat verantwoordelikheid aanvaar het vir die welsyn van behoeftiges in hul gemeenskap kan gemeentelede bewus gemaak word van die behoeftes wat bestaan en wat gedoen kan word. * Waar jy in jou binnekamer jou hart vir God oopmaak en jy hom smeek om aan jou te openbaar die weg wat Hy wil hê jy moet volg. * Hierby kan gevoeg word waar navolgers van Christus weer krag kan vind om hul kruis te kan dra en Jesus te volg. In Psalm 84 spreek die Psalmdigter sy liefde vir God se woning uit as bron van krag: ”Dit gaan goed met die mense wat hulle krag in u vind en graag na u tempel toe gaan.” Vir Paulus is dit belangrik vir navolgers van Christus om gereeld kerk toe te gaan, en sê hy: “Laat ons na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom” (Hebr. 10:24-25).

bottom of page