top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Kerk by die werk

deur Francine van Niekerk Toe die e-pos op my skerm verskyn, flits die gedagte deur my kop: “Maar hierdie is dan eintlik soos kerk ...” Nie ’n paar minute later nie, toe verskyn daar ’n rits e-posse in reaksie op die eerste een. Almal gaan uithelp, almal is bereid. Die aanvanklike e-pos was ’n oproep van ’n kollega. Een van ons ander kollegas se man is skielik in die hospitaal opgeneem. Hy is in ’n kritieke toestand. Sy vrou waak dag en nag langs sy bed. Daar is nie tyd vir huishoudelike take of kosmaak vir haar en haar bejaarde ma wat by hulle woon nie. Daar is net tyd vir bid en doktersraad volg en in die stilligheid vashou aan elke greintjie hoop wat daar te vinde is. Vinnig-vinnig is die lysie vol met name van kollegas wat ’n maaltyd gaan voorberei. En stadig begin die besef by my posvat: Hier waar ons besig is met sperdatums en doenlysies en belangrike take, is daar steeds tyd om ’n hand vol liefde uit te steek om te help. Ek dink aan hoe Christus droom oor sy kerk en die volheid daarvan. En besef skielik – ’n bak warm kos is dikwels net soveel werd as ’n paar goed treffende woorde oor bekering of ’n psalm wat met ’n opregte hart uit volle bors gesing word. Wat ’n eer om deel van Christus se kerk te wees – sommer hier tussen my kollegas. — Francine van Niekerk is redakteur van LiG

bottom of page