Waarom moet ons nie bang wees nie?
deur Luther Backer Jesus het by verskillende geleenthede aan Sy volgelinge gesê om nie bang te wees, om nie te vrees nie. Maar wat staan geskryf in God se Woord, waarom moet ons nie bang wees nie? Ons kan Hom vertrou Eerstens wil Hy ons verseker dat ons Hom kan vertrou. “God self het gesê: ”Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?” (Hebr. 13:5-6). In Ps. 9:11 word Sy betroubaarheid aangeprys met die volgende woorde: “Daarom vertrou almal wat U naam bely, op U, want U Here, laat dié wat vra na U wil, nie in die steek nie.” Hy sal jou beskerm Ook verseker Hy ons dat Hy ons in ons krisisse sal bystaan want Hy is groter as enige krisis wat ons mag beleef. Hy weet van elke krisis in jou lewe, van die gevare wat jou bedreig, maar vertrou Hom net en Hy sal jou daaruit red of jou vrese verdryf soos wat Jesus sy dissipels op die meer gerusgestel het terwyl Hy op die water geloop het en hulle Hom vir ’n spook aangesien het (Joh. 6:20). Hy sal jou nie net uit jou krissis lei nie, ook sal Hy vir jou ’n skuilplek wees waar jy veilig sal voel soos wat beskryf word in Ps. 91:1-2, 14: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ”U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou” ... “Omdat hy my liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.” Sy liefde verdryf vrees Verder moet ons nie bang wees nie want God wil vir ons vrede gee sodat geen slegte omstandighede ons meer kan ontstel nie. Hierdie “vrede van God wat alle verstand te bowe gaan...” (Fil.4:7) word alleen moontlik gemaak deur die liefde wat God vir ons het. Johannes sê dan ook “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees” (1 Joh. 4:18). Die liefde word al groter hoe beter ons God en Sy liefde verstaan. Hy is altyd in beheer Voel jy dat jy dikwels nie opgewasse is vir al die uitdagings en probleme wat by jou werk op jou wag nie. Jy is sommer lus om siek te speel en die dag in die bed bly met die kombers oor jou kop getrek. Waarom wil jy op eie krag en insig al die besluite neem terwyl jy vergeet die Here is in beheer? Hy verseker ons dat Hy altyd daar is om ons die regte pad te laat loop as ons Hom ken in alles wat ons doen (Spreuke 3:6). Romeine 8:28 leer ons dat God alles ten goede sal laat saamwerk vir die wat Hom liefhet. Hy is daar om jou paaie gelyk te maak en jou vreugde te gee. Soos wat die Psalmdigter sê “Met God by my kon ek my pad aanhou loop en die lewenslig bly sien” (Ps. 56:14). Hy sal jou nooit alleen laat nie Jy is nooit regtig alleen nie met die Heilige Gees wat in ons woon en jy met God in gebed kan praat waar jy jou ookal mag bevind. God luister en hoor wat jy vir Hom mag sê; Hy beskou geen gebed van jou as te gering of te eenvoudig nie. Hy is verheug as ek wys ek is afhanklik van Hom en dat ek Hom nodig het. Soos wat die Here vir Josua beveel het om Israel te lei en die beloofde land in te neem en nie moet bang wees nie “want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie” (Deut 31:6), so wil God ons ook van Sy voordurende teenwoordigheid verseker. Hy sal jou bekommernisse dra Bekommernisse maak ’n mens swak en bring jou niks nader aan die oplossing van jou probleme nie. Jesus wil hê dat ons vry van sorge moet wees (1 Kor. 7:32) en dat Hy met ons is en al ons sorge wil oorneem. God se voorwaarde Die enigste voorwaarde wat God egter gestel het vir Sy hulp en ondersteuning aan my, is dat ek Hom moet eer en in Hom moet glo, want “As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon” (Hebr. 11:6). ’n Verstandige mens sal al sy vrese oorwin en nie verder bang wees nie want God verseker Sy kinders: Hy sal jou beskerm, Sy liefde verdryf al jou vrees, Hy is altyd in beheer, Hy sal jou nooit in die steek laat nie en Hy sal al jou bekommernisse dra.