Die goeie ou dae of nie?
deur Marietjie Joubert Prediker 7:10 Ek hoor baie ouer mense sê dat hulle so terug verlang na die goeie ou dae. Dit was dan nou so lekker in daardie tyd. Dit was beter en dat was lekkerder. Ek is seker as hulle kon teruggaan na daardie tyd, sou die ouer mense van daardie era weer gesê het, ai die goeie oud dae. Party mense leef so in die verlede dat hulle vergeet om op te daag by vandag. Ons teksvers vra dat ons nie moet terug verlang na die ou dae nie. Dit sou nie wys wees nie. Die ou dae is net beter as jy nie die sleg onthou nie. Dit is baie makliker om die mooi dinge te onthou want die sleg en seer wil jy vergeet. Persoonlik dink ek ons leef in opwindende tye. Ja ons land het baie probleme, maar hierdie probleme gee vir my as Christen so baie geleenthede. Dit is ons taak as gelowiges om in swaar tye die ander te dra. Ons moet die kruk wees waarop ander loop. Ons moet die hoopdraers wees. Ons moet die fakkels van lig wees vir elke dag. Ons kan dit slegs wees as ons self die Lig in ons het. Ons moet voluit leef in elke dag. Die Here gee vir ons die krag om elke dag te gryp en met hom te hardloop. Ons moet leef want vandag is die beste dag van jou lewe. Ons moet vandag opgebruik, want as hy klaar is kry jy vir hom nooit weer terug nie. Dit lewe is ’n voorreg. Gister is verby en kan niks aan gedoen word nie. Vandag lê soos ’n oop vlakte voor jou uit. Jy gaan hom beskilder en inkleur met jou entoesiasme. Die Here vra van ons om elke dag in volkleur vir Hom te leef. Ons moet net opdaag by elke nuwe dag. Hoe bevoorreg is ons nie. Gryp hom en leef. Doen goed, werk met vreugde, geniet jou kinders, sorg vir ’n arme, sing tot eer van die Here, wees lief vir jou man, maar bowen al, dank God vir vandag. Gebed Here, dankie vir vandag. Ek loof U dat ek kan lewe. Amen