top of page

Wat kommunikeer my dade?

“Preach the Gospel at all times and when necessary use words.” - St Francis of Assisi

Waarvan getuig my dade? Van ‘n diepe en geestelike volwasse verhouding met Jesus? Waar ek met geduld optree in ‘n situasie wat my andersins sou laat ontplof? Waar ek die petroljoggie nog steeds met geduld en respek behandel ten spyte daarvan dat hy so pas klomp van my petrol gemors het en ek erg omgekrap is daaroor. Gee ek ruim bydraes vir die werk van die Here en nie net dit wat ek kan afknyp nie?

Of sien my huismense ’n geïrriteerde, opvlieënde mens wat voor ander ‘n “perfekte Christen” is met sy/haar woorde maar hul frustrasie op hul huismense uithaal? En dit menigmaal Sondae op pad huis toe na kerk!

Sit ek heerlik in die kerk op Sondae maar doen niks die res van die week om die armes en siektes se nood te verlig nie? (Daar is immers ander wat dit kan doen en ek self het belangriker dinge om te doen.)

Almal kan ‘n fout maak, maar as ongeduld en apatie ‘n patroon in my lewe word, sê dit iets van my verhouding met God en is dit ‘n weerspieëling van wat in my hart aangaan. Dit gaan nie hier om my saligheid te verdien deur dade nie, maar gaan daaroor of ek die Heilige Gees toelaat om my gedagtes én gedrag te verander.

Gesindheidsverandering werk soos suurdeeg deur my lewe. So raak ek meer inskiklik en tegemoetkomend, bereid om vrede te maak, nie so geïrriteerd met die kleinste foute nie. Omdat my hart verander het, verander my optrede ook. Maar dit begin in my hart.

“Julle moet doen wat God vir julle sê. As julle luister na sy boodskap, maar julle doen nie wat Hy sê nie, dan bedrieg julle julleself. Want wanneer iemand luister na God se boodskap en hy doen nie wat God sê nie, dan is hy soos ’n mens wat in ’n spieël na sy eie gesig kyk. Wanneer hy homself in die spieël gesien het en hy gaan weg, dan vergeet hy dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand is gelukkig wanneer hy goed luister na die wette van God, die wette wat heeltemal reg is en wat ’n mens vry kan maak. As so iemand aanhou luister, dan vergeet hy nie wat hy gehoor het nie, nee, hy doen dit. En so ’n mens sal regtig gelukkig wees omdat hy doen wat die wette van God sê.

As iemand dink dat hy vir God dien maar hy dink nie voordat hy praat nie, dan bedrieg hy homself, en dan beteken sy godsdiens niks. Die regte en die rein manier om vir God die Vader te dien, is dit: Jy moet sorg vir weeskinders en vir weduwees wat swaarkry. En ’n mens moenie dat hierdie sondige wêreld jou onrein laat word sodat jy slegte dinge doen nie.“ Jakobus 1:22-27

bottom of page