top of page

Loop saam

Ek is nie te sterk op dinge soos kaartlees en rigting-hou nie. Soos klokslag verdwaal ek. Daarom dat ek al baie plekke gesien het wat ek eintlik nie beplan het om te sien nie omdat ek verdwaal het. Boonop vra ek ook nie so maklik rigting nie. My vrou is hier anders as ek. Sy keer gou-gou iemand voor om rigting te vra. Ek leer by haar, dus vra ek deesdae al hoe makliker rigting. Dit werk. Regtig! Dit laat my opnuut meer besef hoe nodig ons mekaar het. Nie een van ons weet alles nie. Ander mense ken enige pad meestal beter as ek. En wat help al hierdie kennis hulle as hulle dit nie kan deel met sukkelendes soos ek nie?

Van koers-hou gepraat: daar is baie kinders van God wat met groter wysheid op Sy pad stap as ek en jy. Hulle weet van groot klippe in die pad wat ons nog nie eens raakgesien het nie. En van die regte roetes wat die Here se hart bly maak. As ons bereid is om saam met een of twee van hulle ’n pad te stap, dan leer ons spoedig by hulle hoe om meer effektief vir die Here te leef. Dink net hoeveel anders sal ons geloof lyk indien ons dag vir dag saam met mekaar op God se pad stap. Ons is regtig nie gemaak om alleen deur die lewe aan te sukkel nie. Ook nie om net ons eie laste te dra nie. Ons moet mekaar s’n in die Here se Naam help dra. So skryf Paulus in Galasiërs 6. Wanneer ons dit begin doen, maak ons mekaar se reis op die Here se pad heelwat makliker. Nou ja, het jy sulke vriende wat naby aan jou stap? Is jyself so ‘n steunpilaar vir iemand anders? Voel jy die laste van ander op jou eie skouers? Laai jy soms ook ’n paar van jou eie op hulle skouers af? Indien nie, is dit tyd dat jy gaan pad vra en begin saamstap met iemand wat regtig weet - van Jesus se pad, bedoel ek!

bottom of page