top of page

Vanaf ’n verbaasde tot ’n gestuurde in een oomblik

Dis nogals ’n ding as jy vasloop in iemand wie jy gedink het eintlik dood moet wees. Presies dit kom Maria Magdalena oor daar in Johannes 19. Sy loop in Jesus vas kort nadat Hy die dood se kettings afgegooi het daardie Sondagoggend net na sy kruisiging. Sy meen egter dis die tuinier wat diens gedoen het in die tuingraf waar Jesus vroeër begrawe is. As Maria Magdalena die leë graf sien, dink sy dat hierdie “tuinier” sy liggaam om een of ander rede verskuif het. Jesus ruk haar egter tot haar sinne as Hy haar reguit op haar naam aanspreek. Dan verander haar verbaasdheid in een oomblik in aanbidding. Ook kry Maria Magdalena net daar op die plek die opdrag om vir die apostels te gaan vertel dat Jesus opgestaan het.

Van ’n verbaasde tot ’n gestuurde in een oomblik- presies dit gebeur as jy in Jesus anderkant die graf vasloop. Dan word twyfelaars skielik gestuurdes van die Here. Dan is vrouens en mans draers van die beste nuus ooit. Hulle weet: die kruis is kaal; die graf is leeg. Die dood het verloor. Lewe het gewen. God se soort lewe vir nou die botoon in Jesus se omgewing. Dis die oorverdowende goeie nuus van Paas-Sondag. Jesus het getriomfeer en ons wat in Hom glo deel hierin Daarom juig ons. Daarom dans en sing ons. Jesus leef en ons leef saam met Hom.

bottom of page