top of page

Ons is nie God se adviseurs nie

Ons is nie God se adviseurs nie, ons is sy knegte. Ons volg Hom nie in ’n adviserende hoedanigheid nie, maar in ’n dienende modus. Ons gebede is nie voorskrifte aan God oor hoe Hy moet optree nie. Die Here alleen bepaal die koers; ons loop dit agterna. Beteken dit ons mag nie nadink, vrae vra, of soms met Hom worstel nie? Nee, ons mag, maar dan gebeur dit altyd binne ’n verhouding van respek. Ons is volgelinge wanneer dit by die Here se dinge kom, nie padwysers nie. Ons luister na Hom en buig voor Sy wil. Ons hoor en vertrou. Soms moet ons worstel om die regte koers te vind agter die Here aan. Sy pad is nie aldag ewe maklik begaanbaar nie. Soms is dit styl en gevaarlik. Daarom verdwaal ons nou en dan. Ook is ons partykeer oor raad verleë, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 4 skryf. Genadiglik is die Here altyd naby, ook in ons af-dae. Hy los ons nie vir een enkele oomblik alleen nie. Ons is immers sy knegte, sy volgelinge en sy kinders. Ons is baie kosbaar vir Hom. Daarom lei Hy ons met groot genade.

bottom of page