top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Moenie dieselfde fout maak nie

Wanneer Jesus sy laaste asem aan die kruis uitblaas, juig al sy godsdienstige opponente. Almal van hulle wat daar by die kruis rondstaan is uit hulle vel van blydskap, almal behalwe een. Die offisier aan diens roep dan uit volgens Markus 15:39: “Hierdie man was sowaar die Seun van God.” Hierdie einste offisier se werk was om van kruisigings ‘n wrede skouspel te maak. Dit was sy taak om elke gekruisigde maksimum pyn te laat ervaar en om die omstanders te laat bewe van die skrik. Maar toe, in die doodsnikke van Jesus se eie stryd, gaan sy aardse teregsteller se oë oop. Hierdie offisier het vroeër daardie dag nog gesorg dat die spykers hard deur Jesus se polse en voete gedryf is. Hy het die kruis in ’n sirkus van bloed en geweld omskep. Maar toe breek sy eie harde hart. Hy bely uit die bloute dat dit die Seun van God is wat pas aan die kruis gesterf het. Leer by hierdie offisier. Praat sy belydenis oor Jesus agterna. Jesus se identiteit is nie maar net nog ’n teoretiese gesprek werd nie. Of nog ’n tema vir ’n kerklike vergadering nie. Die regte belydenis oor Jesus vra dringend om lewensverandering; joune en myne!

bottom of page