Jy kan nie mense afskryf nie
“Soos jy weet, het almal in die provinsie Asië my in die steek gelaat. Onder hulle is daar ook Figelus en Hermogenes. Mag die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie, maar toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het. 2 Timotheus 1 vers 15 and 16
Paulus is in die tronk in Rome. En sy vriende laat hom in die steek. Hy het hulle teleurgestel en nou stem hulle met hulle voete – hulle bly weg. Die rede hoekom hulle Paulus verlaat het word nie gegee nie maar die hartseer en skade wat dit vir hom veroorsaak is duidelik. Hy moet sy swaarkry alleen dra.
Soms doen ons dieselfde. Mense stel ons teleur en dan stem ons ook met ons voete - ons bly weg. Dit is egter nie Bybels nie. Jesus laat die 99 skape agter en gaan soek na die een wat afgedwaal het - alle mense is kosbaar in Sy oë. Hy veroordeel nie die Samaritaanse vrou by die put nie – Hy offer haar lewende water. In die verhaal van die verlore seun ontvang die vader hom terug met ope arms en daar is nie ‘n veroordeling of uittrap nie – net onvoorwaardelike liefde. En ons moet dieselfde doen.
Ons moet ons broer, suster of vriendin gaan ontmoet daar waar hulle is. In hulle situasie van gebrokenheid en sondigheid. Al keur ons nie hulle optrede goed nie. Dit is ook waar Jesus ons kom optel. Daar waar ons nog vuil en vol sonde is. En wanneer ons weer en weer sondig kom haal hy ons elke keer weer. Hy oordeel nie en skryf ons af nie.
As ons sê dat ons Jesus se voorbeeld volg dan kan ons nie anders as om die mense wat ons teleurstel, die vriendin, of huweliksmaat, broer of suster keer op keer te vergewe en nog steeds die pad saam met hulle te stap nie.
Jesus stap langs ons totdat ons uit die modderput is. Hy vra dat ons dieselfde doen.
Dit is nie ‘n maklike opdrag nie want soms val geliefdes keer op keer met dieselfde probleme vas en raak mens moedeloos omdat hulle nie hul lewens wil omkeer en verander nie. Tog vra God dat ons dan nie oordeel nie. Dat ons slegs Sy hande sal wees wat die trane sal afdroog ten spyte van ons eie seer en afkeer van die situasie. Die seer van verkeerde keuses gaan hulle self leef, ons hoef net daar te wees om ‘n oor te wees wat luister. Wat aanmoedig om weer om op te staan.
Kom ons onthou dat “ Ons almal sondaars is. Nie een van ons leef tot God se eer nie. Ten spyte daarvan het Hy besluit om ons vry te spreek. ( Romeine 3: 23,24)
“To give and not expect return, that is what lies at the heart of love”. Oscar Wilde