top of page

Voel reg, leef reg

Het jy geweet ons as mense is emosionele wesens. Nee, ons is nie so rasioneel, soos wat die Franse geleerde, Decartes gemeen het nie. Hy het beroemd geraak vir sy uitspraak: 'ek dink daarom is ek (cogito ergo sum). Maar ons is nie heeltemal sulke groot denkers nie. Ons voel lank voordat ons dink. Ons emosies klop ons denke met ligjare, as jy na die nuutste navorsing hieroor kyk. (Emosies soos vrees registreer reeds binne 'n 200ste van 'n sekonde en vroeër, terwyl ons denkende brein eers rondom 'n 20ste van 'n sekonde aan boord kom.) Ongelukkig praat ons nie aldag indringend vanuit ons geloof oor emosies nie, as en behalwe oor daardie negatiewes soos woede, frustrasie, angs of vrees. Maar wat van die goeies? Die evangelies maak geen geheim daarvan dat Jesus diep gevoelens gehad het nie. Trouens, in 'n sekere sin sou ons kon sê dat Jesus primêr vanuit sy emosies gehandel het, soos wat die evangelies dit in elk geval vertel. Vat maar net die volgende voorbeelde:

In Markus 1:40-44 loop Jesus vas in 'n melaatse. Omdat sulke mense onrein was kon hulle nie in die samelewing rondbeweeg nie. Jesus steur Hom egter nie hieraan nie. Trouens, ons hoor dat Jesus dadelik intense medelye beleef met hierdie arme man. Hy voel sy pyn en verstotenheid aan en gee sy gesondheid aan hom terug.

In Markus 3:5 is Jesus die heel kwaadste ooit in die evangelies, selfs nog meer as toe Hy later die geldwisselaars se tafels in die tempel omgekeer het. Ons lees naamlik hier dat Jesus woedend is vir die godsdienstige leiers wat die sabbatswette so verabsoluteer dat hulle nie meer 'n hart oorhet vir onrein mense nie. Ook hoor ons hier van Jesus se emosie van verslaendheid oor hulle harde harte.

In Lukas 10 hoor ons van Jesus se uitbundige vreugde as sy dissipels terugkeer met die nuus dat die duiwels gevlug het voor hulle en dat onreines genees is. In Lukas 15 vertel Jesus daardie drie bekende gelykenisse van die verlore muntstuk, skaap, en die jongste seun. In elkeen vertel Jesus egter van die oordadige blydskap in die hemel as een van God se verlore mense teruggevind word.

As dit waar is dat ons meer emosioneel is as wat ons dink, dan is dit lewensbelangrik om ons emosies beter te monitor en om die regte emosies gedurig in te oefen. Ons moet veral fokus op daardie soort waaroor die evangelies graag skryf. Vreugde in die teenwoordigheid van God en ander mense is lewensbelangrik, ook intense medelye. En woede oor skeinheiligheid. Dan voel ons reg. Dan beleef ons die regte gevoelens wat God in ons lewens verlang.

Die geheim is om dit in te oefen. Skuif weg van negatiewe gedagtes en emosies. Fokus op dit wat God verheug. Voel dit agterna en leef. Regtig!

bottom of page