Moenie jou regte uitoefen nie
- Mar 3, 2016
- 1 min read
“Dis elke mens se onvervreembare reg om ’n gek van homself-of haarself te maak. Moet dit nooit van hulle af wegvat nie.” Dit het een van een studente nou en dan opgemerk as ons laataand saam koffie gedrink het in die koshuis. Die Spreukeboek skryf gereeld oor dwase. Die dilemma met dwaasheid is dat ons onsself enige oomblik ook aan daardie kant van die draad kan bevind. Wysheid en dwaasheid gebeur! Dit is nie ’n permanente status of posisie nie. Wysheid begin met eerbied vir die Here. So skryf Spreuke 1:7. Wysheid sluit in die gebruik van wyse woorde; respek vir ander; hulp aan mense in nood en baie ander dinge. Teenoor wyses het dwase se tonge geen brieke nie. Hulle dink nie voordat hulle praat nie. Hulle gee net vir hulleself om Vrees vir die Here bestaan nie in hulle omgewing nie. Oppas vir dwaasheid. Dit kos die slagoffers eindeloos duur. Stap eerder op die pad van wysheid wat maak dat jy nederig is en nie nodig het om altyd te praat en te veg vir jou regte nie. ’n Wyse lewe is ’n vreugdevolle lewe omdat dit afspeel op die roete van die ewige God.

Comments