top of page

Maak tyd vir jou vriende

Jare gelede moes ons oudste dogter, toe nog ‘n baba, 'n groot nieroperasie kry. As jong ouers het ons met groot angstigheid ons kosbare dogtertjie die dag van die operasie na die hospitaal geneem. Net voordat sy ingeneem sou word na die teater toe, daag liewe vriende van ons by die hospitaal op. Hulle het self ‘n besige program gehad en twee kleintjies by die huis, maar hulle wou ons graag kom bystaan by die hospitaal. Eers het hulle vir ons en ons baba gebid en later, nadat sy teater toe geneem is, het hulle ons vir koffie geneem by die hospitaal se koffiewinkel. Net daar het ek my voorgeneem dat ek ook so ‘n goeie vriendin vir ander sou wees, maar moet tot my skande erken dat ek soms gruwelik faal.

Deesdae is ons almal se programme so besig, dat ons nie meer genoeg tyd maak vir ons vriende nie. Vir sommige mense is om besig te wees selfs ‘n statussimbool. En net daar mis ons die oorvloedige lewe wat God vir ons hier op aarde beplan het. Hoekom is dit nodig om tyd te maak vir vriende? Want verhoudings tussen vriende is vir God belangrik. Vriende wat mekaar kan bystaan, bemoedig en aanspreeklik kan wees vir mekaar.

Ons almal weet dat geen verhouding kan voortbestaan sonder tyd nie. Daarom is dit in vandag se besige lewe nodig om intensioneel tyd te maak vir vriendskap. Maak ‘n afspraak met ‘n goeie vriendin, al is jy hoe besig en kyk net hoeveel energie en motivering jy uit so ‘n kuiertjie sal kry! Selfs die wyse Salomo het hom uitgespreek oor die waarde van vriendskap: In Spreuke 27 lees ons: Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap le in die raad wat jy kry. Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.

Dink ‘n bietjie aan ‘n kosbare vriendin wat jy in die afgelope tyd afgeskeep het en bel haar dadelik vir ‘n afspraak.

bottom of page