top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Vredemakers

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Matteus 5:9

Hierdie vers glip so maklik van mens se tong af. Om dit prakties te gaan leef is egter ‘n ander saak. Ons almal wil onnodige rusies vermy, of dit nou met familie of vriende, in 'n besigheid is of waar ookal. Maar dit gebeur.

Om vrede te maak beteken noodwendig dat dit voorafgegaan word deur twis en konflik. En konflik impliseer meesal rou emosies en seergemaakte gevoelens wat nou weer hanteer moet word. Konflik wat onderdruk word is ‘n broeiplek vir bitterheid wat uiteindelik lei tot die vernietiging van enige verhouding. As ek nog steeds kwaad is vir my man al baklei ons nie meer nie en in stilstuipe verval is dit niks minder as ‘n koue oorlog waar daar geen vrede is nie. En afwesigheid van baklei is nie noodwendig vrede nie.

Hierdie vers gaan oor vredemakers - nie vredebewaarders nie. Dis nie ‘n “stilbly ten alle koste” en ‘n toesmeer om die vrede te bewaar nie. Vredemaak is ‘n aktiewe proses waar ons nuwe oplossings en moontlikhede ondersoek om die konflik op te los. Dit is ‘n proses van herstel in die verhouding en die Here vra dit van elkeen van ons. Dit is nie ‘n opsie nie, dit is ‘n opdrag.

God weet dat ons tussen selfsugtige en befoeterde mense moet leef. Hy weet dat dit hoegenaamd nie maklik gaan wees om in vrede te leef nie, maar tog vra Hy dit van ons.

Soms moet jy as vredemaker optree tussen vriende, familielede, broers/susters. As vredemaker, moet jy ‘n goeie verhouding hê met al die partye. Hulle moet ervaar dat jy onpartydig is en die beste vir hulle almal wil hê. Vredemaak is ‘n moeilike taak want in jou poging om vrede te maak, sal jy op stadiums aan albei kante moet vure doodslaan. Jare gelede moes vriende van ons vrede gaan maak tussen twee Christen vriende wat ‘n reuse uitval gehad het as gevolg van ‘n saketransaksie wat skeef geloop het. Al het hulle hoe hard probeer was die seer te groot en het daar nie vrede gekom tussen die twee Christen vriende nie. ‘n Jare lange Christen vriendskap verlore.

Om vrede te maak, selfs wanneer dit moeilik is, is om Christus se voorbeeld te volg. Hy het vrede gebring op aarde – tussen God en ons Sy kinders en tussen ons as mense. Ek kan nie 'n vredemaker wees as ek nie vrede in my eie lewe het nie en ware vrede is eers moontlik wanneer daar vrede tussen my en my Skepper bestaan. Dit is wat Paulus bedoel in Romeine 5:1 “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” Die mens wat nog nie deur God se Gees vernuwe is nie, is so geprogrameer dat hy/sy nie in vrede kan lewe nie.

“Unless the love of God is found in our hearts, all this talk about ‘Blessed are the peacemakers for they shall be called the sons of God’ would only be a dream because it is impossible to apply this teaching. A total transformation of our being has to take place. We need to be regenerated by God.” Yves I-Bing Cheng

bottom of page