Het jy die regte klere aan?
Daar's twee dinge wat alle superhelde in gemeen het: hulle het spesiale kragte, en hulle het spesiale klere. Kyk maar na die flieks van Superman, Batman of The Avengers. Sonder die regte kostuums en spesiale kragte kan hulle nie doen wat hulle moet doen nie.
Het jy geweet Christene is ook superhelde? Dit beteken ons het ook spesiale klere en kragte. Hoe lyk hierdie klere? Wel, dit is nie kerkklere nie. Ek is groot gemaak met die idee dat ek altyd spesiale klere kerk toe moes dra. 'n Pak klere vir my en 'n grênd rok en hoed vir ma, want ons moes blykbaar ons beste aantrek as ons na die Here toe gaan. Maar ek het nooit gevoel ek het die Here se superkrag as ek kerkklere aangetrek het nie. Dit was warm, onprakties en duur.
Die fout met hierdie idee dat ek my beste moes aantrek kerk toe is dat dit nie 'n Bybelse leerstuk is nie. Trouens, Jakobus 2 maak dit glashelder dat as ons kyk wat mense aantrek by samekomste van gelowiges en hulle daarvolgens beoordeel, dan doen ons sonde. Toe weet ek kerkklere is nie die regte uniform vir die Here se mense nie.
In Kolossense 3 gee Paulus die antwoord oor watter superklere gelowiges wel moet dra. Hy skryf in vers 10 dat ons ons ou sondige self moet uittrek en die nuwe mens moet aantrek sodat ons al hoe meer na die beeld van God kan lyk. En hoe lyk hierdie nuwe mens? Watter superklere hang in sy of haar klerekas? Hierop gee Paulus die antwoord in vers 12-14. Volgens vers 12 is die nuwe klere van Jesus se superhelde hier op aarde dié van harte vol medelye; goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. O ja, en in vers 14 skryf Paulus: “Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees (Die Boodskap).”
Christene se superklere én superkrag waarmee ons die wêreld omkeer is so vreemd omdat dit so skaars is. Min mense dra dit. Hoogmoed, haat, jaloesie, woede- sulke klere pas die meeste mense baie beter. Jesus se klere wat Hy aan ons elkeen uitdeel is daarom magneties mooi. Wanneer ons dit elke dag aantrek terwyl ons ons ou klere uitgooi, verander die wêreld in en om ons. Dan wen sagte woorde en deernisvolle dade. Dan wen liefde en haat verdamp. Dan word hemelse suurstof losgelaat wat die koolsuurgas van doodsheid verdryf.
Trek vandag nog die regte klere aan; Christus S’n. Dan is die hemel se superkrag aan die werk in en deur jou.