Hardloop, Forrest en kie... maar hardloop reg!
Onthou jy daardie fliek, Forrest Gump. Hy was die ou wat ook regoor die VSA gehardloop het. Gedurig het hy vir homself gesê: “Run, Forrest, run!” Wel, dis wat baie mense weer vir hulleself sê noudat 2016 afgeskop het. Of wat hulle in elk geval doen. Dit is hardloop–tyd. Die feestyd is verby; die hardloop–seisoen is hier. Beplanning–sessies, vergaderings, massas epos, nuwe uitgawes en wie weet wat alles is op ons radarskerm. Hardloop is aan die begin van 2016 die in–ding. Kom ons help mekaar deur te sê in watter rigting en teen watter tempo om te hardloop! a. Hardloop na die Here toe! Atlete hardloop altyd met hulle oog gevestig op die wenpaal. Ons moet dit ook doen in 2016. Saam met Paulus in 1 Korintiërs 9:24–26 hardloop ons nie maar die hele wêreld vol nie. Nee, ons hardloop doelgerig. Ons hardloop in Christus se span. Ons hardloop in sy kleure en met sy klere aan! Ons hardloop na Hom toe in alles wat ons sê en doen. b. Hardloop na mekaar toe In 2016 is ons nie in die eerste plek taak–aangedrewe nie; ons is mense–aangedrewe! Ons leef mekaar nie uit die pad nie. Ons rig ons lewens op elkeen wat die Here op ons pad plaas in 2016. Ons leef mekaar raak; sien mekaar raak; ons bid vir mekaar; ons gee om vir mekaar. c. Hardloop weg van sonde af Paulus skryf vir Timoteus in 1 Timoteus 6:11 dat hy moet weghardloop. Waarvoor? Nee, die vraag is eerder van wat af? Verkeerde dinge, dis wat! Ons moet van daardie dinge af wegvlug wat teen God se wil is. Ons moet sorg dat ons en daardie dinge wat ons lewens kan verwoes nooit op dieselfde tyd op dieselfde plek is nie. In dié proses moet ons ook na Iemand toe hardloop; na Christus toe. Dan is ons veilig. Dan is verkeerde dinge minstens een tree te stadig vir ons. Hardloop reg in 2016!