top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Dankie, dierbare vrou

Alles wat die Here vir my doen, maak my vol vreugde. Hy is die grootste geskenk wat ek ooit gekry het. U sorg vir my, Here. Ps 16:5

Elke oggend staan miljoene vroue douvoordag op. Sommige steek ’n vuur aan om ’n pot pap te kook; ander moet ’n trein, bus of taxi haal om betyds by die werk te wees; party maak kosbliktoebroodjies en was gou ’n bondel wasgoed voordat die kinders by die skool afgelaai word. Regdeur die dag is hierdie vroue besig met hul veeleisende dagtaak: Party was vloere, ander gee skool of verpleeg terwyl sommige die sakewêreld aandurf.

Vanmiddag doen hierdie selfde vroue inkopies, ry taxi vir die kinders, betaal rekeninge en help met skoolprojekte. Vanaand slaan hulle ’n aandete aanmekaar, sorg dat die huishouding in orde is en voorsien boonop die geestelike kos aan hul gesinne. En ... voordat sy uitgeput aan die slaap raak, vou sy die mense wat sy liefhet koesterend in die donskombers van haar gebede toe.

Vroue is géé-siele. Onbaatsugtig en onvoorwaardelik gee hulle elke dag hul energie, tyd, harte ... hul hele ménswees aan ander. Hul liefde maak van gewone mense, hemelse sterre, van ’n klipharde wêreld, ’n genaakbare plek en van ’n vaal bestaan, ’n heerlike fees.

Omdat God ons harte spesifiek só delikaat aanmekaargewerk het, is dit vir ons meestal lekker en vervullend om ander te help, onsself te gee en ’n verskil aan die wêreld te maak. Tot op ’n dag ... wanneer ons sélf moeg, broos of hartseer is. Dán is dit mos asof ons oornag “moeg gegee” is en wanneer ons half vies en verontreg wonder waarom ons alles doen. Dis so al asof ons “gee” opgeraak het en ons leeg wonder of ons nie ook maar soms bietjie kan “ontvang” nie. Of dalk sou dit al bietjie help as ons net ‘n ordentlike dankie en opregte waardering kry?

Liewe vrou, sulke tye wil ek vir jou sê:

  • Jy mag maar ook soms broos wees en behoefte daaraan hê dat ander jou ook bederf. Dis regtig net menslik om sulke stadiums te bereik.

  • Jy mag ook daarop aandring dat ander jou help en soms ook vir jou iets doen of beteken. Jy verdien dit.

  • Jy mag sulke tye meer as ooit jou fyn vrouehart voor jou Vader uitstort. Hy verstaan hoe dit voel om onophoudelik te gee en Hy ken ondankbaarheid.

  • Jy mag ook maar jouself bederf. Ja, wees soms goed … vir jouself en geniet (sonder skuldgevoelens!) daardie iets wat jou lekker laat voel.

  • En les bes: Hier’s ‘n dankie om te bêre vir daardie ondankbaar-voel-dae wanneer jy onvergenoeg wonder oor die bydrae wat jy as vrou lewer: Dankie, wondervrou, vir wat jy doen, gee en IS! Jou waarde is ver meer werd as korale!

Here, U verander my lewe in oorvloedige blydskap. So baie dankie daarvoor!

Comments


bottom of page