top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Kies hoop!

Die Here sê Hy sal hulle gehuil verander in blydskap. Hy sal hulle troos. Hy sal hulle depressiewe gevoel wegvat en in die plek daarvan vreugde gee. Jeremia 31:13b

Daar is altyd meer as genoeg rede om negatief te voel. Die lewe, mense en dinge het immers ’n manier om ons nogal kop-teen-kop te stamp en elke stukkie lewensvreugde uit ons te pers. So was dit deur al die eeue heen.

Die Bybel is propvol verhale van mense se swaarkry, ongeluk en stryd met die lewe. Noag se arkbou-projek is deur die mense as belaglik afgemaak. Josef is deur sy eie broers as slaaf verkoop voordat hy onskuldig in die tronk beland het. Daniël is as gevolg van sy geloof tussen honger leeus ingegooi. Dawid is deur Saul vervolg, moes ervaar hoe sy eie seun Absalom hom verwerp en het met die skuldgevoel van moord geloop. Satan steel Job se hele lewe by hom totdat hy soveel verliese het dat hy letterlik op die ashoop-van-niks beland. Ja, duisende jare gelede het mense dieselfde stryd met die lewe gehad. Tóg is dit verblydend om te lees hoe elkeen van hierdie Bybelfigure gekies het om bo hul omstandighede uit te styg:

  • Noag kies om God selfs op die droë grond van sy lewe te bly vertrou. Só red hy homself en sy hele gesin.

  • Josef maak tot in die tronk ’n betekenisvolle verskil in ander se lewens en word so koning van Egipte.

  • Daniël kies om – ongeag die bedreigings – getrou aan sy God te bly. Daarom red die Here hom wonderbaarlik van die dood.

  • Dawid het onder alle omstandighede die Here se naam aangeroep: In gevaar het hy gesmeek vir hulp, in hartseertye het hy by God sy troos gesoek en toe hy gesondig het, keer hy sy hart met berou na Hom. God seën Hom daarom ongekend!

  • Job besluit om selfs in sy stukkendweestyd sy lewe in God se hande te laat. Uiteindelik seën die Here hom driedubbeld soveel as voorheen.

Jy kan ook elke dag van jou lewe kies! Jy kan altyd kies tussen geloof en ongeloof; tussen vertroue in God of wantroue; tussen getrouheid of ontrou aan Hom en tussen sondebeleidenis of die voortsetting van sonde. Jy kan altyd vir of teen God en vir of teen vertroue kies. So kies jy ook sommer vir geluk of ongeluk en vrede of onvrede.

Viktor E. Frankl het geskryf: Ons wat in konsentrasiekampe was, onthou hoe mense tussen die hutte deurgeloop het om mekaar te vertroos en om ’n laaste stukkie brood weg te gee. Daar was nie baie wat dit gedoen het nie, maar hulle het bewys ’n mens kan jou gesindheid kies binne enige omstandighede.

Here, ek kies U! En daarom kies ek om onvoorwaardelik op U hoop.

Comments


bottom of page