top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Geniet jou vryheid

Jesus wat ons red, gee vir ons ‘n nuwe bestaan in ‘n nuwe wêreld. Hebreërs 2:5a

Om in die tronk te wees, moet een van die mees vreesaanjaendste en neerdrukkendste ervarings in enige iemand se lewe wees. Om afgesonder te word van jou geliefdes, ’n dodelike roetine te volg en agter traliedeure toegesluit te word, is genoeg om ’n mens se moraal heeltemal te breek. As jy boonop onskuldig daar beland, moet dit des te meer hartverskeurend wees.

Wat egter nog hartseerder is, is wanneer vry mense hulself in die tronke van hul harte toesluit. Die gevaar is dat ons almal onsself een of ander tyd in ‘n sel-van-vernietiging kan laat beland omdat ons:

  • Toelaat dat die wêreldse druk ons lewensvreugde steel en ons dan morbiede en beswaarde mense word.

  • Onsself in ’n net van minderwaardigheid toespin deur onsself met ander te vergelyk en dan ons eie goed en mooi mis te kyk.

  • Ons harte in die donker sel van voortdurende hartseer plaas en toelaat dat die lewe se pyn en seer ons onderkry.

  • Toelaat dat ander mense se woorde en optrede ons so beïnvloed en ons dan verbitterd, wrokkig en onvergewensgesind word.

  • Eensaam en alleen in ons tronk-van-selfbejammering sit en nie bereid is om na ander uit te reik nie;

  • Onsself toesluit in die tronk van slegte gewoontes, sonde en ’n selfvernietigende lewe;

  • Ons eie vryheid misken deur nie Christus se vergifnis onvoorwaardelik te aanvaar nie.

As jy in gevangenisskap leef, is daar geen rede waarom jy nie bevry kan word nie. Al wat jy hoef te doen, is om die verlossing wat Christus jou bied, werklik te aanvaar. Samuel Rutherford het geskryf: Ek wens dat jou siel vrede in Hom sal vind. Hierdie afgod van klei, die wêreld, is niks werd nie. Wanneer die oë breek en die asem ophou en die ingekluisterde siel by die venster uitkyk en die ewigheid sien lok, wat sal jy dan gee vir jou vryheid in Hom?

Liewe vrou, bevind jy jouself om een of ander rede in jou selfopgelegde tronkbestaan? Besluit dan vandag dat jy vry wil wees en bid dat die Gees jou met mening sal kom verlos van enige vorm van gevangenisskap. Neem Christus se uitgestrekte hand en loop uit jou tronk na die heerlikheid van ewige vryheid. Jy verdien dit om vry soos ’n voël te leef. Dóén dit!

Here Jesus, verbreek vandag elke aardse ketting wat my vashou en my lewenslus steel. Maak my vry, Here. Heeltemal vry!

コメント


bottom of page