top of page

God se feëverhaal

Geloof en liefde is die eerste spesiale wapen wat die Here vir ons gee om ons soos ’n pantser te beskerm. Geen wapen van die vyand kan daardeur dring nie. Ons moet hierdie wapen elke dag gebruik. Hoe? Ons moet ons vertroue in God stel om ons te lei en te beskerm. Ons moet lief wees vir Hom en vir almal met wie ons te doen kry. Dan is ons veilig. 1 Tessalonisense 5:8b

Dit kan nogal vreesaanjaend wees om te besef hoe erg Satan oor jou is! Ja, Satan veg elke dag van ons lewens om ons harte te steel. En Hy doen dit op vele direkte en subtiele maniere. Hy kom staan vierkantig in ons pad in die vorm van moedswillige sondes en “help” ons as’t ware om dit te doen. Of – dalk meer gevaarlik – veg hy om ons harte deur vrees, pyn en twyfel daarin te skep.

Ons dierbare Vader veg natuurlik ook om ons harte. Sy aanvalstrategie is egter iets heeltemal anders. Terwyl Satan haat gebruik, gebruik ons God net een ding: LIEFDE! Satan se aanvalspyle vertel ons dat ons God se liefde nie werd is nie, dat ons nie goed genoeg is nie en dit verwond ons met liefdeloosheid. Hy laat ons – soos John Eldredge sê – soos Aspoestertjie voel: Onvoldoende, onbevoeg en lelik!

God, daarenteen, omskep ons gelapte mensharte in asemrowende skoonheid. Hy verander ons diensmeisiebestaan in ’n feëprinseslewe. Sy bloed is die koets wat ons kom haal om na die ewige Feesbal te gaan en sy verlossing die blinkwit kroon wat Hy ons gee. Die wonderlikste van alles is dat Hy – die Bruidegom van die Heelal – ons sélf eendag hier gaan kom haal. Deur Hom kan en moet jy elke dag weerstand teen die vyand bied:

  • Bid onophoudelik vir beskerming teen die aanvalle van die bose. Jy mag nooit jou hart ongepantser laat nie.

  • Bied konstant weerstand teen die sonde. Moenie toelaat dat sonde jou verlam, jou vreugde steel en jou skuldig voor God laat nie. Sê blatant “Nee!”

  • Gebruik die Woord, die stem van die Gees en ander gelowiges as versterkmiddels op jou pelgrimsreis. Omraam jou met God se goedheid.

  • Staan sterk in jou geloof. Bid dat die Gees jou sal help glo en laat toe dat Hy sy liefde daagliks aan jou bevestig.

  • Leef liefde. Liefde is en bly die antwoord vir al ons lewensvrae.

  • Weet: as verloste dra jy reeds die onsigbare kroon van oorwinning. Wees en bly oortuig daarvan.

Hou onverpoos vas aan die liefde van jou Vader. Dié liefde wat skoonheid, reinheid en heiligheid in jou hart fluister.

Dankie dat U my prinses-van-liefde maak, dierbare Vader. Wees elke oomblik van elke dag by my. Beskerm my en leef deur my.

bottom of page