top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Jy kán gelukkig wees

Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees. Filippense 4:4

Miskien wonder jy of dit regtig moontlik is om in jou spesifieke omstandighede ’n lewensblye mens te wees. Dalk sukkel jy om jouself as ‘n “gelukkige mens” te klassifiseer. Want ja, hierdie ou wêreld het ’n manier om ons keer op keer onderstebo te slaan. Net sodra ons dink alles is dooddollies, dan tref die teenstand, ongeluk of probleme ons weer.

Paulus was een van daardie mense wat dit kon regkry om altyd bo sy omstandighede uit te styg. As hy vandag geleef het, sou hy waarskynlik ’n wêreldberoemde spreker en gesogte skrywer oor positiewe denke gewees het. Terwyl hy in haglike omstandighede in die gevangenis in Rome is, skryf hy een van sy mooiste en roerendste briewe aan die gelowiges in Filippi. Nie minder nie as sestien keer in sy brief gebruik hy die woorde “bly“ en “verbly“! Hy kon – ondanks sy eie, benarde situasie – nie uitgepraat raak oor die heerlike blydskap wat daar in Christus is nie.

Wat kan ons, moderne vroue van die een-en-twintigste eeu, by Paulus leer?

  • Geluk lê nie in ons omstandighede nie. Dit lê in die gesindheid van ons hart en ons ingesteldheid teenoor die lewe.

  • Geluk is ’n diepgewortelde dankbaarheidsbesef. Dis onmoontlik om opreg dankbaar te wees en steeds ongelukkig te wees.

  • Geluk kan nie gekoop of geleen word nie. Tóg is dit vir almal beskore en kan dit mildelik uitgedeel word.

  • Geluk neem gestalte in jou eie hart aan wanneer jy ánder gelukkig maak. Hoe meer jy gee, hoe meer sal jy ontvang.

  • Geluk is in die nóú. Ons stel so dikwels geluk uit terwyl dit in vandag – in élke dag – gesetel is.

  • Geluk is ’n keuse. Ons kan besluit dat, ondanks enige iets wat met ons gebeur, ons (steeds) gelukkig is.

  • Ware geluk lê nie in die materiële nie. Dit lê in die diepe besef van die vrede wat in God se onmeetlike goedheid opgesluit lê.

Versorgende God, U verstaan en ken my hart en siel en weet van my omstandighede. Dankie dat ek daarom my lewe maar net vir U kan gee en kan vra: Maak my ’n ware vreugdemens.

Comments


bottom of page