top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Ons werk nie in God se “hoe-verklaar-mens dit” departement nie

“Hoekom wil mense gedurig my swaarkry probeer verklaar?” vra iemand wat ’n kindjie aan die dood afgestaan het. “Enigiets vanaf my ongeloof, tot God wat die mooiste blommetjies eerste pluk, word as redes hiervoor aangevoer,” sê sy. Feit is, ons is nie geroep of deur God aangestel om kitsantwoorde op mekaar se swaarkry te gee nie. Vat maar Job se drie vriende met hulle liefdelose verklarings vir sy swaarkry nadat hy al sy rykdom en sy kinders in ’n oogwink verloor het. Hulle het vir Job gesê dis enigiets vanaf sy geheime sondes, tot sy kinders se oortredings wat gemaak het dat God hom nou terugkry. Job het egter geweier om sy vriende as God se amptelike verklaarders te beskou. Die uiteinde? God het vir Job gelyk gegee. Hy moes selfs vir sy vriende ’n offer bring oor al die vals verklarings wat hulle in God se Naam afgelê het. Moenie in hulle voetspore volg nie. Moenie ander mense se swaarkry probeer verklaar nie. Droog eerder in God se Naam hulle trane af. Die Here sal Homself laat vind deur elkeen wat opreg na Hom soek. Hy sal hulle op sy eie maniere troos. Wees jy maar net sy getuie, nie sy advokaat nie!

Comments


bottom of page