top of page

Is jy sielsgelukkig?

Om reg te leef moet jy eers die Here liefhê. As jy die Heilige ken, verstaan jy soveel meer van ’n gelukkige lewe. As jy reg optree, word jou hele lewe elke dag net lekkerder, jou lewensjare net gelukkiger. Spreuke 9:10-11

Vroue-siele is broos. Ongeag ons vermoëns en innerlike krag, bly die siel van ’n vrou steeds sensitief en sag. Daarom beleef ons die winde van die lewe intens, vóél ons emosies en beïnvloed situasies ons geluk of ongeluk. En omdat ons so spesiaal aanmekaargesit is en so diep leef, is geluk vir ons lewensbelangrik: nie alleen ons eie geluk nie, maar ook dié van die mense rondom ons. Dwarsdeur ons lewens streef ons daarna, hoop en droom ons daaroor en probeer ons op allerhande maniere om gelukkig te wees.

Miskien is een van die belangrikste dinge wat ons oor hierdie magiese woord moet weet, juis die feit dat geluk nie ’n eindbestemming is nie, maar ’n lewenslange reis wat ons kíés om te onderneem. Ja, ek en jy kan – ongeag ons omstandighede – ’n keuse téén of vír geluk maak. Ons kan kies of ons sielsongelukkige mense gaan wees wat onsself bejammer en klaend, verwytend en onvergenoeg deur die lewe gaan, of ons kan kies om vreugdemense te wees. Mense wat:

  • die goed en mooi in die lewe en in ander raaksien en dit waardeer;

  • met dankbaarheidsvreugde leef omdat elkeen van ons méns is en daarom kan lééf;

  • in elke situasie vrede vind omdat ons weet dat ons die almagtige Vader onder alle omstandighede kan vertrou.

Die Spreuke-boek is propvol lewenswaarhede oor geluk. Telkemale gee die boek vir ons die klinkklare kernantwoord: lewensgeluk begin by jou liefde vir die Here en jou strewe om Hom te gehoorsaam. Geluk, leer die Woord ons, hou met jou lewensingesteldheid, -gedrag en -keuses verband.

Dit maak nie saak waar jy op jou lewensreis is, wat jou omstandighede is of hoe jy tot nou toe geleef het nie, jy kán as ’n lewensblye mens leef. Want jy het God aan jou kant: Dié God wat sy lewe vir jou gegee het sodat jy hier, nou … en vir altyd, as sy vreugdekind kan leef. Besluit sommer vandag dat jy sy lewensblye kind IS.

Here God, dankie dat U my sonder voorbehoud liefhet. Help my om U met dieselfde onvoorwaardelikheid te volg. Skep in my ’n diep gevoel van dankbaarheid sodat ek, ondanks alles in my lewe, steeds met vreugde sal lééf.

bottom of page