Ons kort ’n beter Leermeester as net ons eie foute
“Mense moet ’n slag hulle probleme in die oë kyk, hoor ek iemand sê. “Om wat daarmee te maak?” vra iemand anders dadelik. Goeie vraag! Ons maak dikwels sulke opmerkings sonder om mooi te dink wat ons sê. Ons sê graag dinge soos: “mens moet leer uit jou foute!” Maar doen ons dit ooit? Leer ons regtig hieruit? Kyk ons regtig ons probleme in die oë? Ek dink nie so nie! Ons kort dringend ’n beter Leermeester as onsself. Ons tekorte en probleme help ons nie genoeg nie. Ons herhaal ons foute. Die Gees van God is presies die regte Leermeester wie se leiding ons voltyds benodig. Jesus sê in Johannes 14 dat Hy ons in die volle waarheid lei. Hy maak dit wat Hy by Christus hoor aan ons bekend. In die woorde van 2 Korintiërs 3 sal die Heilige Gees boonop ons harte as sy nuwe skryfpapier gebruik. Hy maak ons altyd van binne af nuut. Hy sorg dat ons nie gedurig verleë voel oor ons eie onleerbaarheid nie. Die Gees is die enigste hemelse Leermeester wanneer ons regtig smag na lewensverandering. Hy verander ons al hoe meer na God se beeld.
Comments