Vrae vir ons lewensreis
In die begin van hierdie jaar het ek die geleentheid gehad om deel te wees van ‘n “ethnic exchange” wat die organisasie Youthzones organiseer het. ‘n Diverse groep het saam die Drakensberg aangedurf om na mekaar te luister en saam te groei in die droom van ‘n nuwe menswees in Suid Afrika. Gedurende die drie dae het ons saam geleer wat dit beteken om op reis te gaan.
Op die eerste dag van die staptoer het ons as groep kaartwerk gedoen en die lesse van hierdie kaartwerk probeer toepas op ons daaglikse lewe.
Om ‘n kaart te gebruik is daar ‘n paar baie belangrike stappe:
Die eerste is om die kaart te kalibreer met ware noord. Hiervoor het mens ‘n kompas nodig.
Daarna is dit belangrik om te bepaal waar jy tans is en om hierdie plek op die kaart te vind. Wanneer ons weet vanwaar ons reis begin ons die logiese volgende stap om ‘n bestemming te kies en om dan die roete op te breek in korter reise.
In hierdie jaar is die uitnodiging opnuut om op reis saam met Jesus te gaan, die Een wat bekend staan as die Weg, die Waarheid en die Lewe (Johannes 14:6). Jesus is ons kompas en leer ons wat ware Noord is en die Woord is ons kaart. As families en vriende is dit belangrik dat ons opnuut bely dat ons rigting vat en koers kry in die voetspore van Jesus.
Twee vrae kan ons help om in hierdie jaar op Jesus avonture te gaan:
Die eerste is ‘n vraag uit die Ou Testament en is ook die eerste vraag wat God aan die mensdom vra, “Waar is jy?” (Genesis 3:9). Ons reis van waar ons tans is. Ons avontuur begin nie een dag as alles uitgesorteer is nie, maar nou – op die plek waar ons onsself tans bevind. Dalk kan jy aan die begin van hierdie jaar bepaal waar jy/julle jouself tans bevind in die verskillende aspekte van julle menswees. Waar is jy fisies, emosioneel, geestelik en in jou verhoudings?
Die tweede vraag kom uit die Nuwe Testament en is die eerste vraag wat Jesus in die Johannes evangelie vra, “Wat soek julle?”. Waarna soek julle as familie en vriende hierdie jaar? Die skrywer John Dear skryf,
“What is it we want? What do we truly desire? Life is short and precious. What are we most looking for in the remaining years we have left? If we can sit with his question for days and weeks, we will discover, perhaps to our astonishment, that we are not looking for money, power, fame, or control. We are really looking for love, goodness, truth, peace, happiness, justice, mercy, and joy. We are looking for meaning. We are looking for God. We are looking for Jesus.”1
Dalk kan jy hierdie jaar afskop deur hierdie twee vrae saam met jou vriende of familie te bespreek en mag ons saam die vreugde ontdek om soos Matteus ons leer die koninkryk en God se geregtigheid te soek (6:33) vanuit die plek waar ons tans is!
Comments