Gebruik jou kop voor jy jou tong gebruik
Gebruik jou kop voordat jy jou mond gebruik. Dis nie net goeie raad nie, dis boonop die waarheid ook. Praat sonder om te dink is pure dwaasheid. Die Spreukeboek is oor en oor op rekord dat dwase nie hulle tonge in toom kan hou nie. Onnadenkende woorde is soos messteke. Dit vernietig. Dit maak eindeloos seer. Die skade van oorhaastige woorde is dikwels onomkeerbaar groot. Woorde wat eers losgelaat is kan nooit weer herroep word nie. Ons almal trap gedurig in hierdie slaggat van eers praat en daarna dink. Die oplossing: ons moet elke dag bid om die regte woorde. Ons moet bid dat ons woorde in hemelse genade gedoop sal wees wanneer dit ons monde verlaat. En dat dit altyd wyse woorde sal wees wat vir ander mense hoop gee en wat hulle lewens opbou. Daar is meer as genoeg destruktiewe tonge in ons land, en meer as te veel afbrekende gesprekke. Ons skuld mekaar ’n nuwe soort taal, ‘n taal van hoop. Ons woorde moet nuwe vensters op God se goedheid voor ander oopmaak. Ons taal moet deurtrek wees van sy liefde. Dan praat ons reg.
Comments