Dis ons water hierdie!
’n Paar plekke in die land het tans nie water nie. Daarom is dit so inspirerend om te sien hoedat mense orals met groot projekte besig is om water in te samel en aan te ry vir verskillende dorpe in nood. Dit is presies hoe dit moet wees. In tye van nood moet ons harte en hande vir mekaar oop wees. Een juffrou hier in ons omgewing het selfs by haar skool 'n projek van stapel gestuur en binne een week 'n hele paar ton water ingesamel. Toe hoor ek tussendeur dat een van die ouers geweier het om water te skenk, “want een van die dae het onsself dan nie genoeg water nie.” Toe onthou ek weer Johannes se woorde in 1 Johannes 3 dat Christene nooit die "luuksheid" het om onbetrokke te bly nie. Nee, ons kan nie orals help nie. Of alles vir almal wees nie. Maar as mense se name en gesigte en seerkry op ons eie radarskerm verskyn en ons help nie, dan wonder 1 Johannes 3 of die liefde van die Here regtig in ons harte leef.
Liefde is meer as woorde. Dit is ook voelbare omgee. Liefde word gevoel, gesien en ervaar, veral wanneer daar nood is. Dan gee ons sonder om twee keer te dink, want ons weet dat ander gelowiges later weer dieselfde vir ons sal doen as ons swaarkry. So leer Paulus ons in 2 Korintiërs 8. Die Gees van die Here werk in ons almal. Hy maak ons harte sag genoeg om om weg te gee; veral wanneer ander mense nie kos en water het nie. Die Gees verander ons almal een of ander tyd in helpers, selfs al het ons net 'n paar sente, of een ekstra waterbottel op ons naam. Met ons "twee broodjies en vyf vissies" kan Hy vir duisende kos gee. Wees daarom asseblief oop vir die Heilige Gees se leiding hierdie week. Terloops, jy sal agterkom die Here werk in jou as jou hande oopgaan.
Comments