Hoe klink goeie nuus? Vra ook vir oom Pik!
Die rand is aan flarde; graad 12’s presteer nie na wense nie; rassisme wemel op sosiale media, en dan is daar die droogte wat skrikwekkende afmetings aanneem. 2016 is nog nie eens twee weke oud nie. Waar gaan ons heen? Hoe hou ons koers? Toe dink ek weer aan die epos wat Pik Botha, die bekende oud–minister, laasjaar vir my gestuur het en van ons onlangse gesprek oor die Here as ons enigste hoop. Hier is oom Pik se skrywe: “Elkeen se grootste uitdaging is om jouself te ontdek. Na 82 plus jaar het ek nog nie daarin geslaag nie. Ek is innig dankbaar vir die onvoorwaardelike vriendskap van vriende en die liefde van familie wat my van verval in vereensaming gered het. Paulus se boodskap, “En nou: geloof, hoop en liefde bly. En die grootste hiervan is die liefde,” het ons familiebande versterk. God het geen begin en geen einde nie. Dit is nie vir die mens beskore om dit te begryp nie. Ons moet dit eenvoudig aanvaar. Nie een van ons het ’n keuse gehad om nie gebore te word nie en nie een van ons sal sy of haar sterfte kan uitstel of verhoed nie. Ons het dus ’n kortstondige bestaan tussen hierdie twee pole. En dan word ons regeer deur die tirannie van die oomblik. Toe ons 40 of 50 jaar oud was het ons nie besin oor hoe ons daar gaan uitsien of wat ons gemoedstoestand gaan wees as ons 70 of 80 jaar oud sou word nie. Dit was die ou mense se probleem. En dan skielik, in ’n oogwenk is jy 82 jaar oud. Wat is dan verby? En wat wag nou op jou? Die dood. En tog, diep innerlik, weet jy dat jy tot nou toe die beeldskoonheid van sonsondergange bewonder, die majesteit van die berge en die grensloosheid van die naghemel vol ligte — die sterre. En jy hunker na ’n verbintenis met God, die Skepper van alles wat geen begin en geen einde het nie. En jy neem Hom kwalik dat Hy jou geskep het om Sy Almag te bewonder, maar jou dan in die eensaamheid van vertwyfeling gelaat het. “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Vertroosting in musiek, die harmoniese ordening van klank om uiting te gee aan ons versmagting na onverganklikheid, Beethoven, Mozart, Chopin, Sibelius, Max Bruch, Koos du Plessis en talle ander. Die poëtiese skeppings van die grootste liedere komponis, Schubert, is vir my ’n kalmeermiddel teen die wrede werklikheid wat ekonomiese vooruitgang vereis en die onomkombare vernietiging van ons planeet deur klimaatsverandering. Die tweespalt in Schubert tussen vreugde en leed is oorrompelend. Spontaan. Nie terughoudend nie, kleurvol, warm, verbeeldingryk. Is ons “soekers wat nooit vind, kinders van die wind?” Gedompel in die verstrengeling van die verlorenheid in vertwyfeling? Aan die ander kant: die dood ’n paar keer vrygespring. Nie gestraf vir al my sondes nie. Apartheid moes as onchristelik verwerp word, maar dit het lank gevat om daarvan ontslae te raak sonder die gevaar van vernietigende opstand in jou eie volksgeledere. Trouens, nadat die pad oopgemaak is met behulp van Mandela se deurslaggewende medewerking om ons op ’n vreedsame wyse van die gruwel van apartheid te red, is daar steeds boosaardige stemme wat my as ’n verraaier uitkryt. Tog is ek dankbaar vir Paulus se boodskap: “En nou: geloof, hoop en liefde bly. Hierdie drie, en die grootste hiervan is die liefde.” En Christus se eenvoudige, opheffende riglyne: “Niks wat van buite af in ’n mens ingaan kan hom onrein maak nie, maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein.” “Wat help dit ’n mens tog om die wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?” “Met die maat waarmee julle meet sal julle gemeet word.” “Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees.” “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed van goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.” “’n Riet wat geknak is, sal hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie.” “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” En nou na 82 jaar op aarde, wat sê jy nou? God, wees my sondaar genadig! Christus het ook vir my gesterf. Help my waar ek nog ongelowig is.”
Opmerkingen