Nuusflits: Die liefde maak jou sterk
- deur Stephan Joubert
- Dec 14, 2015
- 2 min read
“Jy moet sterk wees.” Afrigters sê dit graag vir spelers. Ouers sê dit soms vir kinders. By begrafnisse word dit selfs vir mense gesê wat ’n geliefde aan die dood verloor het. Feit is, ons kort ’n stuk krag hier in ons binneste om die lewe te oorleef. “Mental toughness,” word dit in Engels genoem. Wel, hier’s ’n nuusflits: God se liefde maak ons innerlik sterk! Wanneer Paulus in 1 Korintiërs 13 oor die liefde skryf, praat hy nie oor soetsappige ditjies en datjies nie. Hy skryf dat God se dienende liefde, daardie agape-liefde wat Hy in al Sy kinders se lewens uitstort, ons innerlik sterk maak om alles te kan verdra wat die lewe na ons kant toe aangee.
Die Here se liefde maak dat ons nie meer jammer vir onsself is nie. Dis tydmors. Dis destruktief. God se liefde maak ons vergeetagtig wat ons eie behoeftes betref.
God se liefde maak dat ons ander mense raaksien en raakleef. Ons hou nie meer boek van die kwaad wat ander ons aangedoen het nie. Ons is ook saam met ander mense bly as hulle sukses behaal.
Ons dink nie die lewe skuld ons enigiets nie. Ons loop nie heeltyd en kla oor hoe ons ingedoen is deur alles en almal nie. Met daardie paar talente wat die Here aan ons gegee het woeker ons van vroeg tot laat. Ons dien, bid, doen goed, ondersteun, gee om, help...
Omdat God se liefde in ons harte is, verwag ons nie almal moet ons op die hande dra en gedurig vir ons applous gee nie. Om lief te hê soos wat die Here ons leer is ons beloning. Dit is ons vreugde! Om onsself tweede te stel; om agter in die ry in te val; om nie al die aandag te wil hê nie, dis wat tel!
God se liefde maak ons sterk genoeg om weg te leef van onsself. Dit maak dat ons God verheerlik en ander dien met sy liefde.
Recent Posts
See AllBrad Huddleston DIGITAL COCAINE A journey toward iBalance Christian Art 2016 Sosiale media het soos ‘n reuse bom ontplof en die hele...
Terwyl God se beloofde terugkeer skynbaar nie vandag gaan gebeur nie, vergeet ek maklik dat elke dag eintlik genadetyd is, tyd waarin ek...
Inkleurboek KLEURVOLLE INSPIRASIE VIR GROOTMENSE Kikker jou lewensreis op met kleur en Bybelse inspirasie Illustrasies deur Amylee Weeks...